kykNET begin binnekort met die verfilming van My man kan, ’n speletjie vir paartjies waarin die vroue spog met wat hul mans alles kan vermag, en dan moet die manne uithaal en wys.

Volgens kykNET gaan die wenpaartjies met groot pryse wegstap.

Die reeks is die eerste keer op 16 Julie 2010 as Mein Mann Kann in Duitsland uitgesaai. Nóg 13 episodes het gevolg. Dit was só suksesvol dat dit aan 18 lande verkoop is. Suid-Afrika was gelukkig om een van hulle te wees, en kykNET gaan die eerste reeks uitsaai.

'n Paar voorbeelde van die uitdagings vir die manne as julle beplan om deel te neem is:

Hoeveel rooirissies kan jou man in 45 sekondes eet?
Hoeveel mense uit 10 kan jou man wen in armdruk?

Die kykers kan nie die mans se reaksies hoor nie, maar kan hulle sien. Die mans kan wel die gekonkel en gekibbel van hul vroue hoor. Met verloop van die speletjie val van die paartjies uit totdat net 2 paartjies oorbly om om die groot prys mee te ding.

Dit gaan alles oor die waagmoed van die mans en slinksheid van die vroue.

Só skryf jy in

Opnames vind plaas van 11 – 20 Mei by Emperors Palace in Johannesburg.

As jy en jou man/vrou/kêrel/meisie wil deelneem, stuur jou kontakbesonderhede, adres en ’n foto van julle twee voor 10 April na info@richtermedien.com.

Om in die gehoor te wees, saam te lag, huil en jou naels af te kou, bespreek jou gratis kaartjie by: 011 928 1297/1213 of psihlangu@emperorspalace.com.