Curiosity, Nasa se Mars-verkenningstuig, het ná ’n reis van 36 maande suksesvol op die Rooi Planeet geland. Vir Japie van Zyl, ’n oud-Namibiër en -Matie en nou mededirekteur: strategie by Nasa se Jet Propulsion Laboratory (JPL), was die eerste foto die oomblik wat uitstaan.

“Dit het gewys die tuig staan wel op Mars. Ek het ’n mengsel van verligting en waardering gevoel. Verligting oor alles so perfek gewerk het, en waardering vir die talent van ons mense – die navorsers en tegnici – wat die sending ontwerp, gebou en so perfek uitgevoer het.”

Dit raak al hoe moeiliker om verwondering by mense te ontlok; die 24 uur-blootstelling aan die media maak ons ’n bietjie blasé. Maar dit was lekker om te sien hoe mense te midde van die Olimpiese Spele só belangstel in Curiosity, sê Japie.

“Ek ervaar gereeld oomblikke wanneer ek hoendervel kry oor iets nuuts wat ons by JPL gesien of gedoen het. En ek hoop ek raak nooit so afgestomp dat dinge my nie meer verwonder nie. Ek kry op sulke oomblikke ’n skielike rush van energie en kreatiwiteit.”

Curiosity se landing het hom weer eens bewus gemaak van hoe baie ons nog moet leer. “Dit was ’n reuse-sukses, maar in kosmiese terme het ons sommer hier reg langs ons geland. Ons het reeds meer as 3 000 moontlike planete om ander sterre gevind, maar het nie die tegnologie om ons soontoe te neem nie. Die Voyager-satelliete wat ons in 1977 gelanseer het, het nog nie eens die invloedsfeer van ons son verlaat nie. Dit sal Voyager ongeveer 40 000 jaar neem om slegs halfpad na die naaste ster te vlieg!”

Lees in jou Desember 2012-uitgawe wat Chad le Clos, Pippie se ma en ander te sê het oor húlle wow-oomblikke.