Wladiwostok. Die “heer van die Ooste”. Vir die jonge Johan Badenhorst het dié woord plekke versinnebeeld ver buite die grense van sy bekende wêreld in die destydse Zoeloeland.

Geskiedenis, aardrykskunde was sy kos. En dié Russiese stad naby die Chinese grens die onderwerp van ’n opstel wat sy vrou, Alma, steeds bêre.

Nou is sy foto-album vol plekke waaroor ander mense droom.

Twintig jaar al hoor ons sy mooi, welluidende stem, dan by ’n onderstebo boom in Madagaskar, dan die reusagtige Kongorivier. Hy vat jou na plekke – van stemmingsvol tot lekker rof. Die ervarings vasgevang in sy Voetspore-reeks vir SABC2 en gepaardgaande reisjoernale. Casablanca, Timboektoe, en ja, Brazzaville . . . dertien reekse, 40 Afrika-lande en Indië óók. 

Ongebaande weë, ons eie Marco Polo.

En nou, sy volbaard en hare al grys, kan hy Wladiwostok by die lysie voeg.

Malaria, insekbyte, diarree, ongeskikte doeanebeamptes, militante rebelle, slegte water en klam slaap – dié dinge ken hy intiem.

In vergelyking daarmee was die Trans-Siberiese sneltrein waarmee hy en Alma dwarsoor Rusland gery het, luuks. Dit sal wel onthou word as die tyd toe die coronavirus sy houvas op die wêreld gekry het. Knus in hul eersteklas- en toe tweedeklaskompartement, het hulle nie regtig besef hoe erg dinge is nie. (Hy wou albei beproef. Maar as jy Rusland se hartklop regtig wil vóél, moet jy derdeklas reis, sê hy.)

Dit was ’n verkenningstog vir ’n moontlike Voetspore-reeks in Moedertjie Rusland, 9 289 km op die langste spoorlyn ter wêreld. Van Moskou deur Siberië en uiteindelik Wladiwostok, lank agter die Ystergordyn omdat die Russiese vlootbasis daar gestasioneer is.

“Al die mense wat ek ken, was in Moskou en St. Petersburg. Dis Europa, nie Asië nie,” reken hy. Hulle kon Rusland die eerste keer sáám beleef, sê Alma. Sy hou nie daarvan om ’n plek te besoek waar hy reeds was nie.

Oor die jare het hy sy gesin gereeld na plekke gevat wat hy op sy Voetspore-avonture ondersoek het. Met ’n tent, die boendoes in, waar dit woes en leeg is. Kamp hul natuurlike habitat.

“Die coronavirus dryf mense nou na eensame afsondering. Maar in die middel van die woestyn waar niemand en niks is nie, dáár is ons regtig gelukkig,” vertel Johan.

Nooit het die kinders ’n TV en PlayStation gesoek nie. Net eenkeer had hy ’n muitery op hande. “Kodaspiek in die Richtersveld het ’n moeilike 4x4-roete, eintlik ’n bietjie gevaarlik. Ek was al twee keer bergop en my swaer Francois Marais en ’n vriend, Ampie Kruger, sê ek moet hulle vat. Daar is ’n bordjie wat sê geen toegang nie, maar dis ’n bietjie van ’n uitdaging. Ons ry so skuins teen ’n afgrond en Alma sit op die rand daarvan en kyk af. Al die kinders is in die kar.”

Nina: “Ons mis niks nie. As my pa sê ons moet ry . . .”

Johan: “Alma bars in trane uit. ‘Wat het jou besiel, jou hele gesin is in die kar, ons is almal dood as dit gly.’ Die kinders is tjoepstil. Daar’s nie omdraaiplek nie – nou’s dit op. Halfpad boontoe kry die kar boonop ’n pap wiel. Dis doodstil in die kar. Toe ons op die kruin kom, hoor jy skielik biep . . . biep . . . biep. Die eerste keer in ’n week is daar selfoonontvangs. En ek’s hul hero vir ewig en altyd.”

Die stoep van hul huis op Kleinmond bied ’n onbelemmerde uitsig oor die wye oseaan. Kyk, dáár blaas ’n walvis, wys Alma.

“Vanoggend is hier ’n groot trop dolfyne verby, seker so 600, die water was sommerso pikswart.”

“Skool,” sê Johan, half ingedagte. “’n Skool dolfyne.”

Nina het net voor die coronavirus se groot toesluit van Pretoria af gekom. Streicher, wat binnekort sy studies as finansiële beleggingskonsultant voltooi, is daar met sy meisie, Anel Linde. Net Heleen, wat pas in Japan begin skoolhou het, is afwesig.

Die Badenhorst-kinders: Streicher, Heleen en Nina. FOTO Verskaf

Wat twintig jaar gelede afgeskop het as ’n TV-reeks oor olifante, In die Voetspore van die Grotes, het intussen ’n handelsmerk geword, met reis die spil waarom als draai. En elke gesinslid het ’n hand in die pot.

Die nuuskierigheid oor nuwe plekke, mense, dinge, wat hy in die verloop van die jare by sy kinders gekweek het, werp nou vrugte af. Het hulle dan nie hul lewe lank praktiese opleiding gehad nie?

“Ek’t nie vir een gesê kom werk vir my nie, hulle moet hul eie ding doen. Dit was so half ’n natuurlike ding.” Die vraag wat hy die meeste by mense kry: “Kan ek saamgaan?”

Niemand kan sommer drie maande lank op reis gaan nie, maar jy kan hulle gaan wys hoe lyk die Kaokoveld, Angola, Botswana, Namibië . . . Voetspore-safari’s is só gebore en word deur Nina bestuur.

Dié fyn blondine het BCom Toerisme studeer, eers ander weivelde beproef en toe gevra: “Kan ek vir Pa kom werk?” Van die bemarking tot die kook van drie maaltye per dag is in haar hande. Een van die manne reis wel as toergids saam. Harde werk, maar vervullend, sê sy.

Heleen was weer ’n jaar of wat gelede in Amerika toe sy laat weet: “Pa, weet jy daar’s 483 onbeantwoorde boodskappe op jou Facebookblad? Wat gaan jy daaraan dóén?” Pa is te besig en sy behartig sedertdien die sosiale media. Sy help ook met die onderneming se bemarking. Hoewel sy BCom Bemarking agter haar naam het, swot sy tans sielkunde om uiteindelik ’n spelterapeut te word.

Alma en hul dogters, Heleen (agter) en Nina. FOTO Verskaf

Streicher, nou ja, hy het sy pa vergesel op die Voetspore-avonture sedert hy nege was. “Dit het die band tussen my en my pa versterk. Jy kan dit sién, ons is so eenders. My ma kla soms té eenders. Eers het ek net saamgereis, later was ek algemene assistent wat help met kampslaan, kosmaak, sulke dinge. Die laaste paar jaar het ek meer van kamerawerk begin leer, en deesdae vlieg ek die hommeltuie en is verantwoordelik vir die aksie-kamerawerk.”

Daar is ook die Voetspore-leefstylwinkel en -4x4-montering-sentrum in Pretoria. By die leefstyl-winkel kan jy alles koop wat jy op safari benodig: van blikbekers tot braairoosters en brandblussers. By die monteringsentrum kan jy jou voertuig volledig laat uitrus vir ’n reis deur Afrika, met goed soos ekstra water- en petroltenks of spesiale vering. Albei word bestuur deur swaer Francois, wat ’n passie vir motors en mense het. Ook betrokke is sy vrou, Uldine, en seun, Juann. Hul dogter, Eldelene, woon in Doebai en doen die besigheid se grafiese ontwerpe.

“Ek sou nie noodwendig die besigheid uitgebrei het as ek nie mense gehad het wat my ondersteun nie,” sê Johan. “Alma het al die jare die boeke gedoen, hoewel sy nie ’n boekhouer is nie. [Sy was ’n onderwyseres en skilder ook.] Soos die geleenthede opgeduik het, só ook die mense in ons familiekring wat dit kon dryf. Dit het sy eie uitdagings, en jy moet reguit kan wees as julle verskil.”

En die kinders, kan hulle sê as hulle verskil?

Nina: “Ja-ah.”

Johan maak keel skoon. “Hulle is so bang vir my, hulle sê nooit iets nie.”

Nina: “Nee wat, Pa, jy ken ons so goed en weet wat ons sterk punte is. Jy gee ons die vryheid en vertrou dat ons dit goed sal doen.”

Johan spot: “Ek’t vir haar gesê om dit te sê!”

En Alma: “Ek dink ons het mekaar goed gekies . . . Ek het twee susters en ons mans is mal oor mekaar.”

Soos ’n goue draad loop die breër familienetwerk.

Twintig jaar, dertien reise, telkens drie maande weg van die huis. Johan sou dit nie kon doen sonder Alma wat raakvat by die huis nie.

Sy weer sê haar familie was háár vangnet. “En solank ek elke dag met Johan kon praat.”

Telkens het hy soos ’n Bybelse wyse man met sy geskenke uit die vreemde gekom. Lap, juwele en erdeware was altyd by sy vroumense gewild. Die “stink goedjies” moes egter ’n week of wat buite bly. Dis hoekom hy ’n winkel oopmaak, terg hy. “Dis vol goeters wat Alma buite gelos het.”

Soms moes Alma visums en selfs motoronderdele vir Johan en die manne iewers in Afrika vat. En kosbare vol videokassette (ja, so lank terug!) terugbring. Eenkeer was daar nie ander genade nie, die tienjarige Streicher moes koerier speel en met ’n hoop kontant DRK toe reis.

“My ma het my uitrusting ’n week voor die tyd al reggesit. Dit was baie warm, maar ek moes met ’n jas vlieg – in die sakke het sy dollars ter waarde van R50 000 vasgeryg.”

Nadat hy Streicher by die lughawe gekry het, bel Johan haar. “Het jy die geld gekry?” vra sy. “Nee, ek soek nog!”

Alma: “Dit was die vreeslikste gevoel om die klein seuntjie met sy bal by die doeanekantoortjie te gaan afgee. Hoeveel kilometer voor hy by sy pa is? En gaan Johan betyds op die lughawe wees?” Vir Johan: “Ek’t eenkeer ingevlieg en toe is julle nie daar nie . . .”

Johan, rustig: “Ons het jou nog altyd gekry . . .”

Een ding, Streicher het vinnig sy kosfiemies laat staan. Daar’s niks wat hy nie eet nie, slak, slang, padda, sê sy pa. (Hy probeer, sê Streicher met ’n sluk.)

Johan glo jy sién nie net ’n land nie, jy moet hom ook próé.

“Op die Trans-Siberiese trein het ons kasies, salami, sulke goedjies gehad,” vertel Alma. “Op ’n stadium klim hy by ’n stasie af en kom terug met sulke vaalgekookte hoenderdye, nè. En twee gekookte eiers. Ek dog ek sou dit in my lewe nie gekoop het nie. En daar maak ons toe die lekkerste hoenderslaai met ’n bietjie mayonnaise. Hy gril nie onnodig vir goed nie . . .”

Streicher: “Ek onthou ons het voorheen voor elke reis kruideniersware by die hipermark gaan koop en die kasregisterstrokie was dan vier tot vyf meter lank. Deesdae sê my pa, local is lekker.”

“Straatkos is lekker,” beaam Johan.

Alma: “En shawarmas vol krieke.”

Johan sydelings: “Eenkeer in die Soedan. Jou ma wou dit nie eet nie.”

Alma: “Die ou staan daar buite met so ’n groot pan en maak vleis vir die shawarmas gaar. Soos ’n Bybelse plaag, soveel krieke was daar. Nou kyk, hy roer net. Ek weet nie hoeveel krieke het hy saamgeroer nie.”

Onpretensieus, ongeforseerd, so het Voetspore ’n plek in ons harte oopgetrap. Dit gaan egter die familiesaak net so ver bring.

“Ek’t ’n goeie storie gehoor oor ouens wat katkos maak. Dit het die mooiste naam en logo gehad, maar nie verkoop nie. Die marknavorsers het een sin ter verduideliking gehad: ‘Katte hou nie daarvan nie.’ Dit help veel jy het ’n fantastiese handelsmerk, ’n wonderlike idee. As Francois se diens nie goed is nie, sal die winkel binne ’n maand toemaak. Net so as mense nie Nina se toere geniet nie . . .”

Johan en sy swaer, Francois. FOTO Verskaf

Die konsep agter Voetspore is eenvoudig: “Ses ouens wat ry en ’n lekker tyd op interessante plekke het. Vanaand as die son sak, gooi jy ’n beker rooiwyn in, ’n skaaptjop op die kole en sit met ’n paar pêlle – dan kan die lewe mos nie sleg wees.”

Jy wil dit óók ruik en sien en proe? Johan en kie tot jou diens! Siedaar: Die “katte” spin tevrede.

Besoek: voetspore.co.za