Die Afrikaanse sangeres Leah, en nou ook aanbieder van die liefdesreeks Boer soek 'n vrou, se 2018 is beslis 'n goeie jaar!

Eers was sy aangewys as die een wat boere gaan help om liefde te vind (dié gewilde kykNET-reeks skop 1 April af) en binnekort speel sy een van die hoofrolle in die Afrikaanse chickfliek Susters (dit begin 30 Maart). 

Leah verfilm tans 'Boer soek 'n vrou'. FOTO Instagram / @leahmusieksa

En nou is die gewilde sangeres ook 'n miljoen kykers ryker! Ja, haar musiekvideo Volmaan is al meer as 1 miljoen keer op YouTube gekyk!

Die blonde skoonheid was verlede November ons voorbladster. Sy het geskitter in geel!

Vir Leah is Volmaan een van haar "gunsteling-liefdesballades"

Leah was nog altyd 'n harde werker.

Sy wou van jongs af onafhanklik wees. “Dit is hoekom ek so gedrewe is, ek wil werk, bly groei,” het sy in die November 2017-uitgawe verklap.

Haar ma, Christa, het haar met dié ingesteldheid grootgemaak. “Sy is sterk, hardwerkend en kan enigiets doen. Sy sou die mooiste kunsvlyt maak en op die mark verkoop.” Leah het weer sjokoladekoek en geverfde kerse op markdag by die skool verkwansel. “My ma het my leer klere maak. Sy’t gordyne gemaak, tafeldoeke geverf . . .”

Vandat sy twaalf was het sy as gasvrou en kelnerin in haar ma en oom Herman, haar ma se lewensmaat se Wimpy in Bellville gewerk.

“Ons moes maar daai geldjies verdién. Ek geniet ’n winskopie, want ek waardeer elke sent wat ek het.” As BCom-regstudent aan die Universiteit Stellenbosch het sy vir ekstra geld aandrokke vir vriendinne gemaak. Later, tydens haar studies in drama, dans en sang aan die Waterfront-teaterskool van Delia Sainsbury in Kaapstad, het sy ook kostuums vir teaterproduksies gemaak.

Haar ma het haar en haar broers, Ignus en Daneel (26), ook geleer lojaliteit – en familie – is heilig. As die gesin saamstaan, kan jy (byna) enige krisis oorwin.

En die fliek Susters word dié waardes beklemtoon. Die fliek handel oor drie aangenome susters wat weer ná hartseergebeure mekaar probeer vind.

Sy geniet toneelspeel, want dit leer haar van menswees. Maar as sy sing, is sy dadelik gelukkig, want sy sien hoe ander dit geniet.

Kyk die lokprent: