Gister is die benoemings vir die Bafta's (die Britse Oscars) aangekondig met die Spielberg-fliek, Lincoln, as die voorloper met 10 benoemings. En gister is die rooi tapyt uitgerol vir die eerste groot toekenningsaand in Hollywood, die People Choice Awards.

Sondagaand is dit tyd vir die Golden Globes wat die beste van die jaar in die rolprent- en televisiebedryf vereer.

In afwagting vir die Oscar-benoemings, het ons gaan kyk na die groot flieks wat dié jaar op almal se lippe is.

LINCOLN

Die Steven Spielberg-rolprent gaan oor die laaste vier jaar van die beroemde Amerikaanse president se lewe. Daniel Day-Lewis is reeds verskeie kere benoem vir sy rol as Abraham Lincoln, waaronder vir ’n Golden Globe en ’n Bafta-toekenning.

Volgens Spielberg het Lewis eers dié rol van die hand gewys het, maar na byna ’n dekade ingestem ná verskeie aanpassings aan die draaiboek. Sally Field vertolk die rol van Mary, Lincoln se vrou. Dié film het in die VSA alleen meer as R1 miljard ingepalm.

(Lincoln begin 1 Februarie in Suid-Afrikaanse teaters speel)     

ARGO

Die spanningsdrama waarvan Ben Affleck die regisseur is én een van die hoofrolle vertolk, is losweg gebaseer op die ware verhaal van ’n CIA-missie in die jare sewentig. Dit handel oor die reddingspoging om ses Amerikaanse diplomate wat as gyselaars in Iran aangehou is, vry te laat. Affleck het ’n Bafta-benoeming vir beste akteur ontvang, maar nie ’n Golden Globe-benoeming nie. Hy's wel as regisseur vir beide 'n Bafta en 'n Golden Globe benoem.

(Argo begin 1 Februarie in Suid-Afrikaanse teaters speel)     

ZERO DARK THIRTY

Dit is seker die jaar se mees opspraakwekkendste film. Dit handel oor die soektog na die terreur-leier Osama bin Laden en sy uiteindelike dood. Dié rolprent loop voor met die meeste benoemings in al die kategorieë dié jaar. Die film se regisseur, Kathryn Bigelow, het reeds ses benoemings ontvang. Sy het ook drie jaar gelede in dié kategorie gewen vir The Hurt Locker.

Jessica Chastain (The Help en The Tree of Life), wat die rol van ’n CIA-agent vertolk, het ’n Golden Globe en Bafta-benoeming vir beste aktrise ontvang.

(Zero Dark Thirty begin 15 Februarie in Suid-Afrikaanse teaters speel)     

SILVER LININGS PLAYBOOK

Bradley Cooper het vir sy rol as ’n man wat aan bipolêre depressie ly verskeie beste akteur benoemings ontvang, waaronder vir ’n Golden Globe en Bafta. Cooper se karakter, ’n oud-onderwyser, raak verlief op ’n geheimsinnige meisie, Jennifer Lawrence (wat gisteraand die People’s Choice-prys gewen het vir Hunger Games), nadat hy uit ’n inrigting ontslaan is.

(Silver Linings Playbook speel tans in Suid-Afrikaanse teaters)     

LIFE OF PI

Dié bekroonde boek van Yann Martel het uiteindelik die grootskerm gehaal. Ang Lee (Crouching Tiger, Hidden Dragon en Brokeback Mountain) vertel die magiese verhaal van ’n seun wat ná ’n skeepsramp op ’n reddingsboot saam met ’n paar diere moet oorleef. Lee is verskeie kere as beste regisseur benoem, waaronder vir ’n Critic’s Choice Award, ’n Golden Globe en 'n Bafta.  

(Life of Pi speel tans in Suid-Afrikaanse teaters)     

LES MISÉRABLES

Tom Hooper (The King’s Speech) het die bekende West End-musiekblyspel na die silwerdoek gebring. Die rolverdeling is vol groot sterre, waaronder Russell Crowe, Anne Hathaway (foto bo) en Hugh Jackman. Jackman het verskeie benoemings as beste akteur gekry, waaronder vir ’n Golden Globe en ’n Bafta.

Die verhaal speel af in die 19de eeu, net na die Franse Revolusie. ’n Voormalige gevangene, Jean Valjean (Jackman), verbreek sy paroolvereistes om na ’n fabriekswerker (Hathaway) se dogter om te sien. Dié besluit verander hul lewens.

(Les Misérables begin 18 Februarie in Suid-Afrika draai)     

DJANGO UNCHAINED

Die rolprent vertel die storie van ’n vrygelate slaaf (Jamie Foxx) wat sy vrou van ’n brutale plantasie-eienaar wil red (Leonardo DiCaprio). Met Quentin Tarantino in die regisseurstoel én skrywer van die film, kan jy ’n aksie-belaaide 165 minute verwag. Tarantino is vir ’n Golden Globe en Bafta vir beste regisseur benoem.  

Leonardo DiCaprio

(Django Unchained begin 18 Februarie in Suid-Afrika draai)     

THE BEST EXOTIC MARIGOLD HOTEL

Dié goed-voel-film handel oor ’n groep Britse pensionarisse wat by ’n baie spesiale hotel in Indië gaan aftree. Die komiese drama het goed by die loket gevaar en spog met talle sterre in die rolverdeling, waaronder Judi Dench, Bill Nighy, Tom Wilkinson, Maggie Smith en Penelope Wilton. Dis vir 'n Bafta benoem in die kategorie as Uitstaande Britse Fliek. Dis ook vir ’n Golden Globe vir Beste Fliek - Musiekblyspel of Komedie benoem.

(Op DVD beskikbaar)