Natalie Becker, radio- en TV-aanbieder, se foto was genoeg om regisseur Shamim Sarif te oortuig sy's uitgeknip vir die rol van die geniepsige Farah in haar nuwe fliek The World Unseen, wat sedert Vrydag in teaters vertoon word.

En Sarif was in die kol, want hiervoor is Becker pas met 'n Safta-prys (die Suid-Afrikaanse rolprent-en-televisiepryse) as beste vroulike byspeler bekroon!

Sarif is ook skrywer van die gelyknamige boek, wat Becker jare gelede gelees het. As joernalis wou sy destyds bitter graag dié skrywer in Brittanje vir 'n onderhoud in die hande kry, maar dit het toe nie uitgewerk nie. En toe val Sarif se keuse op háár om dié karakter met die skerp tong te speel. Haar verbasing was natuurlik groot toe haar agent haar met dié nuus bel, vertel sy.

Sy is geen onbekende op die silwerdoek nie. Sy speel in nog twee internasionale flieks wat in Kaapstad geskiet is, en moontlik vanjaar uitgereik word. In Disgrace speel sy saam met John Malkovich, en in The Deal saam met Meg Ryan en William H. Macy. Colin Moss en Grethe Fox is van haar mede-akteurs in The World Unseen.

Haar toekenning beskryf sy as 'n groot verrassing, want ander benoemdes het veteraan-spelers ingesluit.

"Om in Suid-Afrika in die filmbedryf te werk is nie altyd maklik nie. Wanneer 'n mens dan die geleentheid kry om met sulke gehalte-akteurs en só 'n wonderlike regisseur te werk is dit regtig 'n seëning." (Jeanne Calitz, Die Burger)

Becker, wat op George in die Suid-Kaap gebore is, is al deur die tydskrif FHM as een van die wêreld se sexyste vroue bestempel.

Sy het die graad B.Soc.Sc. (met ekonomie en bedryfsielkunde as hoofvakke) aan die Universiteit van Kaapstad verwerf, en is onder meer aanbieder van die leefstylprogram Free Spirit op SABC3. Weg van die kameras tree sy gereeld as seremoniemeester op.