Dié uitnodiging het gekom tydens hul Europese toer wat in Mei afgeskop het. Die twee groepe is in dieselfde tyd in Duitsland en 3 Doors Down het die SA manne gevra om by drie geleenthede die verhoog vir hulle te open.

Ross Learmonth, Prime Circle se hoofsanger en kitaarspeler, het die eerste 11 dae van die toer se dagboek-inskrywings eksklusief met SARIE gedeel. Lees dit hier en kyk ook die foto's!

Prime Circle toer Europa



“Ons droom al vandat ons kan onthou van só ’n toer, en nou is dit uiteindelik hier!” – Ross Learmonth

DAG 1: HUMM

Ons het teen 15:00 by die O.R. Tambo-lughawe aangekom. Daar het ons laaste onderhoude ingepas en seker gemaak ons het alles en almal gegroet. Frankfurt, hier kom ons!

In Duitsland aangekom, moes ons ses uur wag vir 'n verbindingsvlug na Amsterdam. Ons het ongelukkig nie tyd gehad om van die plaaslike cuisine te proe nie, want ons moes na ’n dorpie met die naam Humm gaan reg op die grens tussen Duitsland en Nederland.

Ons is baie opgewonde om daar te wees, almal is in ’n goeie bui en ons kan nie wag om op te tree nie. Ek moet sê ek is op my senuwees, maar tog baie opgewonde oor dié nuwe avontuur.

Ons gaan in ’n klein hotel in die middel van Humm speel, en ons het die goeie nuus ontvang dat Gibson die kitare voorsien!

Daar aangekom kyk ek dadelik na die kitare. Daar is ’n akoestiese kitaar soortgelyk aan dié waarop Elvis gespeel het. En dit is pragtig! Ek, Dirk en Marco het die kitare vir ’n hele ruk bewonder.

DAG 2: AHLEN

In Ahlen aangekom, doen ons dadelik ’n klanktoets in die plek waar ons gaan optree, Schuhfabrik. Die klank was nie watwonders nie, maar ’n ekstra monitor het die ding gedoen.

Die vertoning het goed gegaan! Net jammer die gehoor was baie klein, maar die reaksie was baie goed.

Dit het byna gevoel soos toe ons jare gelede begin het met die band. Ons het baie opgetree in klein dorpies voor klein gehore. In Suid-Afrika is dit nou heeltemal ’n ander prentjie en dit is moeilik om van voor af te begin.

DAG 3: FASSBERG, MALI-FEES  

Dit is ’n klein en pragtige dorpie, dit voel amper soos om in ’n woud te wees. Daar woon gewoonlik 700 mense hier, maar wanneer die Mali-fees aan die gang is, groei die bevolking tot byna 2000 mense.

Ons het wonderlike energie gehad op die verhoog en die mense het dit baie geniet! Ons was verbaas om te sien hoe vinnig die mense die woorde onthou en saamsing – dit was baie pret.

DAG 4, 5, 6 en 7: MAGDEBURG  

Ons het vier dae af gehad, so ons kon lekker toer, nuwe plekke sien en heerlike Europese kos eet. Magdeburg is ’n lieflike stad met heerlike Duitse bier. Ons het Duitsland ervaar en beleef en ’n heerlike tyd gehad.

DAG 8: POTSDAM  

Ons kon nie wag vir die Potsdam-vertoning nie, en nou is dit hier. Met ons aankoms was daar ’n vroue-sokkerwedstryd aan die gang, Potsdam teen ’n span van Engeland. Ons het toe sommer daar ’n klein akoestiese vertoning gedoen om die aand se show te bemark. 

Terwyl ons later gewag het om te speel het ons onverwags goeie nuus gekry van Franie, ons bestuurder, af. Hy het ons vertel dat ons genooi is om saam met die Amerikaanse band 3 Doors Down op te tree as deel van hul toer deur Duitsland.

Ons is baie bly oor die nuus! Die show het goed gegaan en ons het twee encores gekry!

DAG 9: OSLO, NOORWEë  

Ons moes baie vroeg opstaan om na Noorweë te vlieg, en nog ’n trein te vang Oslo toe.

Oslo is ongelooflik mooi. Ons het ’n ent gestap en net om ons gekyk.

By die Rockefeller, waar ons optree, aangekom, was ons stomgeslaan. Dit was ongelooflik. Die soort plek waarvan mens net kan droom.

Metal-musiek het sy oorsprong in Noorweë gehad, so ons was senuweeagtig om daar op te tree, maar meer opgewonde as enigiets anders.

Ons het met ’n stadige liedjie begin en toe die vertoning laat opbou, met baie goeie resultate!

DAG 10: SAARBRüCKEN 

Ons het weer in Duitsland aangekom, maar ons was so moeg, ons het verlore slaap ingehaal.

DAG 11: VIVA FRANKRYK

Vanoggend het ons agtergekom ons is net 70 km van Frankryk af! So omdat ons ’n af dag gehad het, het ons besluit om deur te ry na 'n dorpie met die naam Metz.

Ons het die dorp besigtig en lekker geëet – dit was pragtig.

Ons het bootjies gehuur en van die rivier af ou kerke en geboue gesien. En toe raak ons op een of ander manier verdwaal op die rivier, maar ’n baie behulpsame Fransman het ons gehelp om weer die “pad” te vind.