Nataniël is Suid-Afrika se gunsteling-kaalkop. Vir dekades al het hy gehore vermaak, diep in lesers se harte ingekruip en vele inspirasie opgelewer soos hy deurnis en humor vervleg het. 

Ja, Nataniël is die meester van etiket. Vir SARIE Kos se 10de verjaarsdag het Nataniël nie net op die voorblad verskyn nie, ’n eerste vir ons kostydskrif, maar ook etiket gedeel. 

Hier is ’n paar treffers, wat oorspronklik in SARIE KOS se Lente 2017-uitgawe verskyn het:

1. DIS MOEILIKE TYE, ALS IS DUUR. KAN JY FAMILIE/VRIENDE NOOI VIR ’N KERSETE, ’N SPYSKAART OPSTEL EN ELKEEN ’N RESEP GEE OM TE MAAK?

NATANIËL sê: “Ek gril my dood, maar jy kan. Etiket is gebaseer op drie dinge: respek, gemak en logika. Binne ’n vriendekring/familie behoort kommunikasie goed en gemaklik genoeg te wees om saam te besluit hóé ’n geleentheid aangepak gaan word. Dit verskil van familie tot familie, elkeen het sy eie kultuur of band. Ek verkies om alles self te doen; ek hou daarvan om elke detail van ’n groot geleentheid self te reël. Ander hou daarvan om as groep te werk. Kies die pad wat die minste wrywing gaan veroorsaak.”

2. “EK WORD GENOOI VIR ’N AANSIT-ETE, WAT TREK EK AAN? IS MY GLITTER EN TIARA OUKEI? EN ’N MOOI SWEETPAK EN CROCS VIR BRAAIVLEIS?”

NATANIËL sê: “Dis heerlik om in jou privaatheid rond te sluip in afgryslike los gewade, stokou hemde of die duiwel se skoene. Maar wanneer jy in geselskap is, is jy in jou beste klere, formeel of informeel. Blink goed is pret en deesdae deel van dagdrag, maar hopelik deur ’n goeie ontwerper op die regte manier gebruik. Aanddrag kan nie by ’n ander geleentheid diens doen nie. Formeel beteken ook nie noodwendig aanddrag nie. Dit word aangedui deur die internasionale term black tie (mans in pakke, vroue in kort of lang rokke), of white tie (mans in manelpakke, vroue in lang aandrokke). Die tiara: Met die uitsondering van die enkele lewende adellikes op aarde, verskyn jy nooit aan tafel met iets op jou kop nie, jy is nie ’n posbus nie. ’n Hoed is toelaatbaar by ’n dagfunksie in die buitelug.”

3. “MY MILLENNIËR-KIND EN HAAR VRIENDE GLO ALMAL BETAAL VIR HOM/HAARSELF EN ALMAL KUIER LEKKER SAAM. WANT ONS HET ALMAL EWE MIN GELD. EK GLO DIS NIE ETIKET NIE. AS JY MENSE NOOI, BETAAL JY.”

NATANIËL sê: “Dit hang af. Daar is die geleentheid wat almal saam aanbied, waar vooraf op ’n bedrag besluit word en almal dra by. En daar is die geleentheid met ’n gasheer of gasvrou wat dan vir als betaal. Ek gee nie om watse neigings daar is nie, as jy dié twee situasies meng of verwar, is daar altyd moeilikheid. Ek hoor daagliks van mense wat óf woedend is omdat hulle moet betaal en dan nog geskenke ook moet bring, óf omdat niemand iets bygedra het nie. Watter besluit ook al in ’n familie of intieme vriendekring geneem word, is goed. Dis die kommunikasie vooraf wat kortkom.”

4. KAN EK VRA DAT MY VRIENDE HUL SELFONE BY DIE DEUR IN ’N MANDJIE GOOI AS EK HULLE VIR ETE NOOI?”

NATANIËL: “Ek dank elke dag die engele dat ek ’n vriendekring het waar ’n selfoon nooit in ’n geselskap verskyn nie. Behalwe as daar ’n krisis of vooraf gereëlde oproep is. Dan maak jy verskoning en verlaat die vertrek. ’n Lastige selfoon is ’n teken van onsekerheid, mense wil belangrik of besig voel, hulle besef nie hulle is vasgegroei aan die euwel nie. Ander glo hulle moet bly klou, dis hoe die Kardashians hul fortuin verdien. Dit bly pateties. As jy jou ophou met sulke mense, nooi hulle vriendelik maar duidelik vir ’n selfoon-lose kuier.”

5. “IS EK VERANTWOORDELIK DAT MY LEKKERLYF-VRIENDE VEILIG BY DIE HUIS KOM AS EK HULLE VIR ETE NOOI?”

NATANIËL sê: “Nee. Almal wat ek ken wat weet hulle gaan in oordaad fuif, tref self vooraf reëlings. Daar is wel die paar wat nooit hul perke ken nie. As dit jou werklik pla, reël vir hulle vervoer. Of, selfs beter, nooi ander mense.”

Wou jy nog altyd vir hom ’n vraag vra? Nou is jou kans!

Op Sondag 19 April gaan Nataniël sy nuutste OPTOG!-uitvoering lewer Noudat ons tyd het. ’n E-kuier waar Nataniël jóú vrae beantwoord! Hierdie uitvoering is deel van OPTOG! se e-konserte, wat hoop gedurende inperking wil verskaf.

Verfilm jou vraag op ‘n selfoon. Noem ook jou naam en vanwaar jy gesels en stuur dit vir ons voor eerskomende Vrydag via Whatsapp na 071 686 7733. Die videos mag langer as 30 sekondes wees nie.

Kaartjies vir eerskomende Sondag, 19 April, se e-kuier is nou teen R50 beskikbaar by www.optog.co.za

Die e-kuier sal reeds 08:00 Sondagoggend beskikbaar wees vir jou om enige tyd van die dag te kyk. Kliek eenvoudig op die skakel wat jy ontvang nadat jou kaartjie gekoop is!