Op kykNET se gewilde program Reis na gister gesels Jak de Priester met Nataniël oor sy grootwordjare. Hulle besoek Kuilsrivier en Wellington waar baie van Nataniël se jeugherinneringe opgesluit lê.

Uitsending: Woensdag 12 Maart 2014 om 20:30

Kyk hier na 'n voorsmakie.

Nataniël het in Rapport (Desember 2012) oor sy kinderdae gesels, hier's 'n uittreksel:

Al wat hy nog sy lewe lank wou doen, was “om ’n blink ding te dra en te perform”.

“Ek dink die eerste dag ná ek my eerste tree gegee het, het ek al my ouma se hoëhakskoene gedra. In die Kerstablo het ek van kleins af almal gespeel: Maria, Josef, baba Jesus én Patti LaBelle.” Al die ander goed – dertien boeke, sy SARIE-rubriek, vertonings, kosdemonstrasies, die etiket-praatjies en vanjaar boonop ’n reeks wyne en sy eie kosprogram op televisie, Die Nataniël Tafel op kykNET – het per ongeluk gebeur. En eintlik, al glo mense dit nie, is hy nogal skaam en sukkel hy om ’n kompliment te hanteer…

Almal weet al sy ouma Maria Burger – “die perfekte kombinasie van wildheid en grasie” – was sy grootste aanhanger en aansporing.

“Sy het altyd vir almal gesê ‘los die kind, hy sal nog sy niche vind’. Toe ek op universiteit sulke wilde avant garde-operas geskryf en opgevoer het, was sy daar. Dan kruip ek hande-viervoet op die verhoog met ’n skoolklok in my mond, en Ouma sê: ‘My kind, Ouma verstaan nou nie wat jy gedoen het nie, maar dit was fantasties.’ Ek was fisiek verlam toe ek hoor sy’s dood.” Hy was toe 20 jaar oud.

Sy oupa Ben was net so snaaks, ’n verteller van “sulke vreemde stories” wat vir hulle strokiesprente agterop Ouma se briewe geteken het. Hy vertel van al die kuiers by Ouma en Oupa op Wellington in Huis Cummings, ’n vrouekoshuis van die destydse Hugenote-kollege. Eendag wil hy nog daardie gebou koop, sê hy.

“Ek sal in ’n oogwink Wellington toe trek.”

Lees die volledige onderhoud hier: Rapport, (Joernalis: Ilse Salzwedel)