’n Hele hoop geskenke is al toegedraai en staan in torings in die stoorkamer, splinternuwe versierings skuil in die gangkas en lang tafels in uitgesoekte restaurante is klaar bespreek. Sjefs is reeds gesmeek of omgekoop om spyskaarte aan te pas vir die vele (en moeilike) smake wat bevredig moet word.

Wat die familie nog nie weet nie, is dat daar heel moontlik ’n ekstra gas aan tafel sal wees, of dat ek self moontlik afwesig sal wees indien die gas voel ons moet alleen kuier. Nee, dis nie ’n lelike storie nie, daar is net baie, baie om oor te praat. Verder is hy op die oomblik baie moeg, seergemaak en ’n bietjie skaam. Ander mense sal verskil, want hulle sien hom gereeld op televisie en hy beskryf manhaftig sy opinies en onskuld op die internet.

Hy beantwoord op die oomblik nie my oproepe nie en reageer nie op my boodskappe nie. Maar ek verstaan, sy naam is Lance Armstrong en sy lewe het in ’n baie kort tydjie heeltemal verander. Wel, eintlik verdwyn, sy lewe het verdwyn. En niemand wil hom sien nie, hulle jaag hom weg, hulle ignoreer hom, hulle veroordeel hom, hulle dank hom af, hulle soek sy geld, hulle beledig hom. Nee, hy is nie ’n plaaslike sanger nie, hy ry fiets, orals op die aarde. Hy het die Tour de France sewe keer gewen, kanker oorwin, met ’n beroemde sangeres uitgegaan en in talle advertensies verskyn. Hy het miljoene rande ingesamel vir liefdadigheid en was die held van miljoene mense, jonk en oud. Hy het talle jongmense inspireer om sport te beoefen, hy het siekes gewys hoe om te veg vir hul gesondheid en hoe om ander te ondersteun, miljoene mense dra sy bekende geel armband om hul ondersteuning van liefdadigheid te wys.

Toe skryf iemand ’n verslag en vertel hoe hy verbode middele en sondige brousels gebruik het, mediese toetse gefnuik het en sy spanmaats tot stilte geboelie het. Toe stroop hulle hom van sy medaljes en die borge vra hul geld terug. Die sportbase sê ons moet van hom vergeet, hy’s ’n skande, en nou is alles verby.

Ek kan aan niks anders dink nie. Hoe kan ’n loopbaan en ’n lewe uitgewis word binne dae? Hoe sal ons ooit weet of hy rêrig gekonkel het? Alles is hoorsê, daar is geen bewyse nie. Hoekom sal almal teen jou draai die oomblik dat een begin klik? Misdaad moet gestraf word, daar is geen twyfel, maar is daar geen genade? Geen tweede kans? Geen vergifnis? Geen ligpunt? Het die stomme Lance niks reg of goed gedoen nie? Iets bly my pla, alles is nie pluis nie.

Is dit net die grotes wat so vinnig so ver kan val? Is dit hoekom soveel mense hulle verlustig in die mislukking van Oprah Winfrey se nuwe netwerk? Is dit hoekom bekendes se terugslae of skandes sulke wonderlike nuus is?

My loopbaan is popspeel, my lewetjie is klein, maar dit was ’n goeie jaar. Hierdie Kersfees is een van dankbaarheid. My pa het wonderbaarlik herstel van ’n geweldige beroerte, my ma is vrolik en het steeds meer energie as ’n veldhaas in lang gras, my suster het uiteindelik geluk gevind, my oorsese broers en hul gesinne is gesond en suksesvol, my TV-reeks was ’n sukses, my shows was vol, my winkel is mooier as ooit, my vriende is rondom my, ek is dankbaar, dankbaar.

Ek wil aan die Kerstafel sit, reg oor of langs Lance, ek wil hom uitvra vir ure, hoor wat verkeerd gegaan het, wat is nou oor, waarvoor is hy nog dankbaar. Ek wil aan hom genade betoon, ook welwillendheid. Ek wil hê hy moet goed slaap en dan weer begin. Hy moet nou net bel.