Die gastelys van ’n troue is gereeld die oorsaak van ’n klein oorlog. Families spat uitmekaar en praat vir jare nie met mekaar nie, en meestal oor nonsense soos wie genooi is of was en wie nie. Die gasheer en gasvrou by ’n troue is die bruidspaar en niemand anders nie, al het wie ook finansieel bygedra. Geld koop mag in die sakewêreld, nie by ’n vreugdevolle of emosionele geleentheid soos ’n huweliksbevestiging nie.

Hoe word ’n gastelys bepaal? Kyk na die begroting, besluit op die spyskaart, bereken die onkoste, bepaal die getal gaste (en hou daarby!) en maak ’n lys. Nooi eerstens die mense oor wie jy nie hoef te dink of te debatteer nie, dié wat jy liefhet, wat daadwerklik tot jou lewe bydra, dié wat gaan deel wees van jou én jou aanstaande se toekoms. Werkskollegas, skoolvriende, jou ma se kleinniggie en jou suster se beste vriendin se broer en sy huidige meisie is van min belang in hierdie situasie. Só ook spoke uit die verlede, vorige liefdes, die dame wat die blomme gerangskik het of die ontwerper van die trourok. Kleuters of babas word slegs toegelaat indien die troue op ’n eiland of in ’n krater plaasvind. In só ’n geval is reiskoste en verblyf die verantwoordelikheid van die bruidspaar, nie die stomme gaste nie. Hulle is reeds finansieel gebroke ná die verlowingsparty, kombuistee, henne- of haneparty en die geskenkelys.

’n Troue is ook nie die plek waar die bruid of bruidegom vir die eerste keer iemand ontmoet nie. Met die uitsluiting van emigrasie, kwarantyn of parool bevat die gastelys net name van mense wat deur die bruid en bruidegom geken en goedgekeur word. Medesoldate uit die bruidegom se verlede of die tannie wat Ouma versorg het nadat sy geval het, sal dit oorleef om sonder ’n uitnodiging die lewe aan te durf, hulle ken ander mense ook. Intimidasie, trane, uitbarstings, dreigemente, afpersing en selfmoordbriewe is daar vir jou persoonlike vermaak, nie om jou gastelys of troudag te bederf nie. Herinner jou ma, so dierbaar soos wat sy is, dat sy reeds haar troudag gehad het, jy kan nie al haar vriendinne ook nooi nie, selfs al was sy by al hul kinders se troues. ’n Bruidspaar verdien dit om op hul troudag ontspanne, geliefd, gekoester en veilig te voel, omring deur die heel beste mense wat hulle ken.

Só beland ons by die volgende krisis. Wie sit waar? Die plasing van gaste het net een doel: Om die dag so aangenaam moontlik te maak. Jou pa se vierde vrou hoort nie aan die bruidstafel nie. Jou ma se nuwe boyfriend hoort nie op die troufoto’s nie. Die neef met die drankprobleem en die vuil grappe hoort nie eens op dieselfde dorp nie. Jou vriendin, wat op elke troue in ’n tert verander en aan getroude mans bly hang, word aan haar stoel vasgeboei of ontvang ’n uitnodiging met foutiewe aanwysings. Jou dikbek tante word by die heel agterste tafel geplaas, verkieslik naby ’n oop venster met ’n koue wind. Sy ontvang ook haar kos laaste. Onthou, kla maak haar gelukkig. Sien met dieselfde sorg om na al die gaste. As die bruidspaar beplan om sesduisend foto’s langs ’n antieke motor te laat neem moet die gaste versorg wees. En onthou, ’n meisie met ’n harp is ook net vir só lank opwindend.

’n Belangrike deel van die feesvieringe is om die mense in jou lewe te bederf en te bedank vir hul liefde en lojaliteit. ’n Suinige affêre kan onmoontlik beloon word met armsvol skatte. Jy kan nie ’n gas onthaal met ’n glas wyn en ’n paar vingerhappies en dan verwag hy of sy moet opdaag met ’n nuwe wasmasjien nie.