Die storie het oorspronklik in SARIE se Julie 2017-uitgawe verskyn.

Asof bestem deur die gode ... Witsand op sy mooiste, vriende en familie, en vier dae van geluk. Selfs die dolfyne het gesig gewys toe ons "eish"-man, akteur Neels van Jaarsveld, en sy Jeanne op ’n blou herfsdag getroud is.

Twee weke voor hul troue praat Neels van Jaarsveld en sy verloofde, Jeanne Flynn, ’n voormalige model en persoonlike afrigter, in hul huis op ’n klein Overbergse kusdorpie oor die groot dag. Hulle is opgewonde. En effe uitgeput ná al die reëlings. Maar stralend gelukkig. Dis ’n nuwe Neels. Hy is rustig. Sy oë blink. Hy verdwyn twee keer kombuis toe om ’n vars pot koffie te brou. Buite skyn die son en die branders klots sowat vyftig meter ver van hul huis teen die rotse.

FOTO Gillian Coetzee

Die pasgetroudes deel ’n oomblik op die rotse. Dis hier op Witsand dat Neels die jawoord gevra het.
FOTO Gillian Coetzee

29 April 2017, Neels van Jaarsveld en die liefde van sy lewe, Jeanne Flynn, se mooiste dag.
FOTO Gillian Coetzee

Jeanne se afgetrede ouers, Rentia en Arthur Flynn, woon aan die Wes-Kaapse kus by Witsand, en dit is waar Neels die groot vraag gevra het. Dis ook hier waar hulle op 29 April getroud is. Dit was ’n gesellige affêre wat oor vier dae gestrek het sodat die 140 gaste, baie van hulle uit die vermaaklikheidsbedryf, ordentlik kon ontspan en kuier. By die Breede River Lodge en PiliPili-restaurant het hulle feesgevier.

Toe Jeanne hom die eerste keer in die ou Barry-klipkerk op hul troudag gewaar, het sy dadelik besef sy het nog nooit so veilig, rustig en kalm gevoel nie, vertel sy twee dae ná die troue per WhatsApp. Hulle het die dansbaan geopen op die maat van Ryno Velvet se liedjie “Berge”, wat deur die sanger self gesing is, met Herman Kleinhans op die tromme ... “Alles was onvergeetlik, onverbeterlik, spesiaal,” jubel Neels saam. “Die partytjie het eers om vyfuur die oggend tot ’n einde gekom terwyl gaste ge-rap en gesing het. Selfs die weer het saamgespeel en was heeltyd perfek. Asof die gode dit so bestem het, het die gaste bokkies, uile en visarende gesien ... honderd dolfyne het ons gelukgewens op dag vier. Dit was die beste vier dae van ons lewe,” skryf Neels.

FOTO Gillian Coetzee

Die groot oomblik ... amptelik meneer en mevrou Van Jaarsveld.
FOTO Gillian Coetzee

FOTO Gillian Coetzee

Hulle besef meer as ooit tevore hulle is geesgenote. Albei het al met die donker kant van die lewe te make gehad. Sy het op haar dag geworstel met depressie en obsessief-kompulsiewe stoornis. Op skool is Jeanne ook geboelie – in die laerskool omdat sy te plomp was, op hoërskool omdat sy te maer was. Aan die einde van graad nege het sy skool verlaat en onder meer modelwerk in Italië gedoen. Sy het haar skoolloopbaan deur Damelin-kollege voltooi. Neels weer erken openlik in die pers hy was ’n alkoholis, maar is al vier jaar lank “skoon”. Dit was in SARIE in 2014 dat hy die eerste keer vertel het om alkohol te laat staan was vir hom dié moeilikste reis van sy lewe – en terselfdertyd sy grootste prestasie.

By haar voel Neels asof hy “tuisgekom” het. “Dit is nie meer nodig om jou eksentrieke gewoontetjies te verduidelik nie. Ons kan ten volle ontspan in mekaar se geselskap. Natuurlik is daar soms konflik. Sy dink nie dis nodig om die melk in te yskas te sit nie. Dan doen ek dit, en bly stil. Dis nie die moeite werd om oor beuselagtighede te stres nie,” lag hy. En kyk met ’n groot glimlag na haar.

FOTO Gillian Coetzee

Neels en Jeanne het pret op die dansvloer.
FOTO Jaco S. Venter

“Neels is so sentimenteel, hy gaar alles op,” vertel sy weer. Ja, gee hy toe, dit maak haar mal. Weer die mooi glimlag. Maar haar onbevange liefde vergewe alles, sê hy. “Ek het nog nooit so iets teëgekom nie.”

Sy´ vertel hy het haar die gawe van geduld geleer. “Soms kan ek vreeslik ontsteld raak as mense my te na kom. Hy het my geleer om diep asem te haal en nie iets te sê wat ek nie moet sê nie. Dit ís nie die moeite werd nie.”

Hulle is ’n span. “Die highs is hoog. Natuurlik is daar in die liefde ook laagtepunte, maar ons liefde is volrond. Ons werk daardeur. Ek gee nie voor nie. Dis vir my ook ’n kompliment en ’n teken van ware liefde as my geliefde ‘af ’ voor my kan wees. Mense ís op en af. Dit beteken julle vertrou mekaar. Ons glo aan totale aanvaarding. Jeanne en ek wil die lewe vir mekaar ’n beter plek maak.” En ja, sy het vir seker ’n groot aandeel in die “nuwe Neels”, gee hy toe.

FOTO Gillian Coetzee

FOTO Gillian Coetzee

FOTO Gillian Coetzee

Hier's nog foto's van die Van Jaarsveld-bruilof:

Uitsonderlike, geborduurde katoen het Jeanne se trourok uniek gemaak.
FOTO Gillian Coetzee

’n Snoeptafel met lekkertes soos dadelballe van Rentia Flynn, die ma van die bruid, lemoenkoekies deur Neels se ma, grondboontjie-rotse deur Jeanne ... En dan was daar die smulkaaskoek.
FOTO Gillian Coetzee

Die akteurspaar Bouwer Bosch en Leandie du Randt geniet ’n lighartige oomblik gedurende die gemaklike toesprake.
FOTO Gillian Coetzee

Die aktrise Amalia Uys het op die laaste nippertjie ingespring en hare help stileer, want die haarstilis se vlug was vertraag.
FOTO Gillian Coetzee

Jeanne en haar ma wou saam iets doen vir die troue en om die vlaggies van kant te maak, was die perfekte geleentheid daarvoor.
FOTO Gillian Coetzee

FOTO Gillian Coetzee

Neil Flynn, Jeanne se broer van Bloemfontein, het haar die kerk ingebring.
FOTO Jaco S. Venter

Verskaffers

1. Fotograaf: Gillian Coetzee van Gillian Photography and Design – 083 554 4919

2. Trourok: Lena-Retief van LENA LISA – 072 501 7612

3. Wyn: Journey's End – 021 858 1929

4. Venue: Breede River Lodge – 028 537 1631

5. Venue: PiliPili-restaurant – 028 537 1018

6. Ring: Lady Peculiar – 021 886 8868

7. Geleentheidsbeplanner en dekor: La Flor – 076 353 4631

8. Grimering: Mariëtte Bruwer van Blusch Nails & Makeup – 083 608 1141

9. Voorgereg: Kasselhoop – 074 819 4659

10. Honde-oppasser: atFrits Dog Hotel and Daycare Centre – 021 200 4244

11. Geskenke en dekor: Spiekeries – 064 507 5853

Die oorspronklike artikel het in SARIE se Julie-uitgawe verskyn.