Toe was dit nie net Emo Adams wat Donderdagaand (9 April) die gaste by Club Al Capone by die KKNK op hulle voete gehad het nie, maar ook Zane Meas (Neville Meintjies in 7de Laan) met sy sielvolle vertolking van Me & Mrs. Jones. En kan dié man sing! Toe hy met daardie diep soul-stem lostrek was daar g’n keer aan hom nie. Emo Adams en sy band Take Note was eweneens heupswaai-heerlik. Jy verlang skoon na die Kaap as hulle met die ghoema-keurspel begin: “Welcome to Cape Town, enjoy the party!” En hoe! Selfs Koos Kombuis se voete het gejeuk.