Die pragtige Nicole Kidman het verlede maand haar 50ste verjaardag gevier. Die Australiese Oscar-bekroonde aktrise het haar loopbaan in 1983 begin, maar eers in die 1990's in die kollig beland met flieks soos Days of Thunder, Far and Away en Batman Forever.

En wie kan haar huwelik met Tom Cruise vergeet? Of haar kortstondige verhouding met die rocklegende Lenny Kravitz? Deesdae is Nicole gelukkig getroud met die country-sanger Keith Urban, wat ook later vanjaar 50 word. Die paartjie het twee dogters, Sunday Rose en Faith Margaret. Nicole het ook twee aangenome kinders, Connor en Isabelle Jane, uit haar huwelik met Tom.

Hier's 5 goed wat jy dalk nie van haar geweet het nie

1. Sy is eintlik in Honolulu, Hawaii, gebore terwyl haar Australiese ouers daar op studiebesoek was.

2. Sy het nie matriek geskryf nie. Sy is al op 16 uit die skool nadat sy ’n rol in ’n fliek losgeslaan het.

3. Nicole was die eerste Australiese aktrise ooit wat ’n Oscar gewen het. Sy het die Oscar vir beste aktrise in 2004 verower vir haar vertolking van die Engelse skrywer Virginia Woolf in The Hours. Die jaar daarna was Cate Blanchett die tweede een met haar Oscar vir beste vroulike byspeler in The Aviator.

4. Nicole het dalk net Hugh Jackman, haar medespeler in Australia, se lewe gered. Sy het op die stel gesien hoe ’n dodelik giftige skerpioen op Hugh klim. Sy het hom beveel om doodstil te staan, die skerpioen in haar hoed opgeraap en vrygelaat.

5. Die rol van Mrs. Smith in Mr. & Mrs. Smith was oorspronklik Nicole s'n, maar toe besluit sy teen dit. Angelina Jolie het haar plek ingeneem en die res is natuurlik geskiedenis.

Nicole se styl-evolusie

Sy was eens die onsekere, relatief onbekende vrou aan Tom se sy, maar het gou die kollig begin steel. Deesdae gee sy die toon aan op die rooi tapyt. Vroeër vanjaar het sy by Cannes in Frankryk seker die mooiste gelyk wat ons haar ooit gesien het. Kyk net die foto's oor hoe haar styl oor die afgelope byna drie dekades ontwikkel het.

1990

1992

1995

2000

2002

2005

2010

2012

2015

2017