Nigella Lawson is op die voorblad van die Britse Vogue se April-uitgawe - met die minimum grimering! Sy praat oor dié angswekkende ervaring en haar egskeiding.

Die 54-jarige sjef het byna geen grimering op die voorblad aan nie. Volgens Mail Online dra sy op dié foto net maskara en blosser. Die airbrush-funksie is glo ook minimaal gebruik.

Woensdagwenk: Wend maskara só aan vir baie volume

Die Mirror sê die fotosessie was ’n uitdaging vir Nigella, wat nog altyd baie bewus van haar voorkoms is.

Nigella Lawson op die voorblad van die Britse Vogue. FOTO: Vogue Nigella Lawson op die voorblad van die Britse Vogue. FOTO: Vogue

"Ek was vreesbevange om sonder grimering afgeneem te word en ek haat dit as daar te veel aan my voorkoms gewerk word. Dit voel altyd of ek ’n teleurstelling gaan wees as iemand my in die vlees sien," sê Nigella.

Die Nigella wat op die voorblad van April se Britse Vogue pronk, het ’n ver pad gekom sedert haar egskeiding en aantygings van dwelmmisbruik verlede jaar aan die lig gekom het. Vandag is sy positief oor die toekoms en die professionele uitdagings wat sy vir haarself gestel het.

"Ek hou daarvan om oor kos te skryf, maar daar is soveel meer wat my interesseer," sê sy volgens die Mirror in die onderhoud.

“Sedert ek myself bevry het van ’n briljante maar wrede man is ek dagga-, kokaïen- en dwelmvry,” het Nigella sowat drie maande gelede gesê nadat sy van die multimiljoenêr Charles Saatchi geskei het.

Charles het haar daarvan beskuldig dat sy haar twee assistente gehelp het om geld by hom te steel sodat hulle nie oor haar dwelmmisbruik sal praat nie. Dis toe dat die gewilde sjef besluit het om eerlik te wees oor die situasie.

Klik hier om meer oor die hofsaak te lees