SARIE, die topverkoper-vroueglanstydskrif in Suid-Afrika, spog met ’n splinternuwe tydskrif vol van jou gunsteling tydverdryf: SARIE BLOKRAAISELS bevat 43 van die beste blokraaisels wat nóg in SARIE verskyn het. Die tydskrif is saamgestel deur Anina Roux, wat bekend is vir haar blokraaisels en Sudoku.

SARIE BLOKRAAISELS is nog ’n uitbreiding van die gewilde SARIE-handelsmerk wat SARIE BRUID, SARIE KOS, SARIE WOON, SARIE GESOND en www.sarie.com insluit. Hierdie alleenstaande tydskrif bied jou ure se kopkrap-genot.

“SARIE lesers is gaande oor blokraaisels en kan nooit genoeg daarvan kry nie. Ons wil graag aan dié behoefte voorsien – dié spesiale tydskrif met net die beste raaisels is vir hulle,” sê SARIE se redakteur, Michélle van Breda.

Die eerste uitgawe sal vanaf 17 Maart 2010 beskikbaar wees en het ’n maklike wedstryd waarin ’n leser R5 000 kan wen. SARIE BLOKRAAISELS is teen slegs R29,95 by uitsoektakke van CNA, Checkers, Checkers Hyper, Pick n Pay, Pick n Pay Hyper en Spar beskikbaar. SARIE BLOKRAAISEL sal twee maal per jaar uitgegee word.