Dis natuurlik die foto's waarvoor die wêreld gewag het . . . die eerste foto's waarin Kate Middleton se swanger magie duidelik gesien kan word. Maar tydens hul 'babymoon' op die Karibiese eiland, Mustique, het steelfotograwe wéér hul lang lense op die bekende paartjie gerig. Kate is nou sowat vier maande swanger.

Die Italiaanse tydskrif, Chi, het die foto's opgeraap en op hul voorblad gepubliseer. Dié tydskrif was ook die eerste om die opspraakwekkende kaalbors-foto's wat verlede jaar van Kate tydens hul private wegbreek in die Franse platteland geneem is, te publiseer. Volgens die woordvoerder van St.James-paleis is hulle "teleurgesteld" dat hul privaatheid so geskend is. Ná bewering het uitgewers in Amerika, Frankryk en Duitsland ook reeds die foto's aangekoop. Maar die redakteur kap terug deur te sê dat die paartjie op 'n openbare strand tussen vakansiegangers verskyn.

Dis onseker of die steelfotograaf self op die eiland was en of dit vanaf 'n boot in die baai geneem is.

Dit herinner aan die 1982-steelfoto's wat ook van Prinses Diana in haar bikini geneem is terwyl sy swanger was met Prins William. Sy het tydens 'n hoëspoed-jaagtog met die paparazzi in die Franse hoofstad, Parys, verongeluk.

HOE VOEL JY HIEROOR?