Toe Louis van Wyk (54) twee jaar gelede die pragtige Monica Grobbelaar (35) ontmoet het, het sy nog 'n trouring aan haar vinger gehad en hy het aan 'n soort bomskok oor vroue gely ná die omstrede sake van seksuele teistering teen hom, vertel hy.

"Ek het regtig niemand meer vertrou nie. Veral nie vroue nie. Ná vier jaar waarin my lewe omgewoel is deur die sake teen my, het daar niks van gekom nie. Buiten Vanessa, teen wie my appèl geslaag het, het die ander almal stil-stil verdwyn."

(In 2007 het die hof beslis Louis Wyk hoef nie meer sy gewese sekretaresse, Vanessa Schmidt, wat hom in die landdroshof weens verkragting gedagvaar het, R20 000 te betaal nie. Louis se appèl in Pretoria se Hooggeregshof teen die landdroshof-bevel het met koste geslaag.)

Louis het so twee keer met die pragtige Monica sake as koerier-agent gedoen en het in daardie stadium nie eens kans gesien vir 'n platoniese vriendskap nie.

Ná Monica se skeisaak het hy beter bevriend geraak met die blondekop-ma van Joben (9) en Jacques (11).

"Dit het 'n rukkie geneem voor ek gevoel het ek is weer reg vir 'n verhouding. Ek dink Monica het na haar egskeiding ook so gevoel."

Ses maande nadat hy Monica leer ken het, het hy haar begin uitneem en het sy gaandeweg sy vertroue gewen, vertel hy.

"Sy het geweet ek was nog bevriend met Irene met wie ek 14 jaar getroud was en sy het geweet van die serial bride waarmee ek ook getroud was en al die beweringe teen my. Sy het my aanvaar soos ek is."

Hulle het op 5 Oktober 2008, op Louis se verjaarsdag, besluit om hul verhouding ernstiger aan te pak.

"Die tyd was reg. Sy is 'n opregte plattelandse meisie van Lichtenburg wat nie belang stel in die glanslewe nie. Sy voel nie bedreig deur my profiel in die media nie. In die stadium dat ek haar ontmoet het, het ek als en almal gehaat. Sy het 'n kalmte oor my gebring."

Hy is al 'n jaar aan Monica verloof en het dit tot dusver reggekry om haar vir die media weg te steek omdat hy "nooit meer openbare funksies soos musiek-toekennings bywoon nie," sê hy.

"Sy was my grootste steunpilaar toe Irene in Oktober 2009 verongeluk het. Sy het besef ek en Irene het 'n vreemde egskeiding en dat ons nog baie na aan mekaar was. Sy het nie bedreig daardeur gevoel nie. Sy het geweet Irene was nog my beste pel en beste baklei-maat, soos ek dit in die begrafnisbrief gestel het."

Louis se kinders Irene Louise en Vaughn is baie mal oor Monica en hulle gun hul pa die nuwe geluk, sê Louis.

Nee, daar is nog nie sprake van 'n troue reël nie, keer Louis.

"Ek het al die T-hemp van getroud wees gekoop en gedra. Monica het ook al daai T-hemp gedra. Daar is dus geen druk op ons nie. Ons sal as die tyd reg is, trou om voor die kinders trou te beloof en vir hulle te wys dis hoe mens dit op die regte manier doen."

Louis het Monica in Desember 2009 die jawoord in Rusland gevra toe sy saam met hom en sy kinders daar getoer het. Hulle almal het 'n wegkomkans na Irene se dood nodig gehad. Vanjaar gaan die paartjie in Desember na Los Angeles en Miami toer. "Miskien trou ons sommer vir die grap daar, maar die huwelik sal nie in Suid-Afrika erken word nie."

Monica vertel hoe ongelooflik Louis haar lewe kom nuut maak het na haar egskeiding.

Sy gee nie om vir sy omstrede beeld nie en sê sy sien 'n sagtheid in Louis wat hy selde vir ander mense wys.

"Ek het 'n rukkie gesukkel voor hy dit reggekry het om voor my oop te maak. Hy het eintlik 'n sagte hart en mense misbruik hom maklik. Dit is sy ondergang." Sy vertel hoe Louis klein dingetjies doen wat haar hart steel. Hy dra rose aan en tap badwater in as sy moeg is.

"Hy en sy kinders het vreeslik seergekry met Irene se dood. Vir dae het dit vir ons almal onwerklik gevoel." Sy en Irene het baie goed oor die weg gekom en sy sal nooit die oomblikke vergeet toe Louis haar vertel het Irene is dood nie en toe Louis die nuus aan sy kinders moes oordra nie.

Louis is die man met wie sy graag die toekoms wil aanpak, sê sy.

"Hy gee my my spasie vir my werk en hy maak my gelukkig. Ek gee hom spasie vir sy werk en ek glo ek maak hom gelukkig."

Louis verwys na Monica as die engel in sy lewe met "regte vlerke".