Die 27-jarige skoonheidskoningin is verlede jaar as eerste prinses in die Mej. VSA kompetisie gekroon. Maar nadat Olivia Culpo haar kroon moes verruil vir die Mej. Heelal titel, het Nana haar plek ingeneem.

Nana is in 1985 in Suid-Afrika gebore terwyl haar ouers gemeenskapswerk hier gedoen het. Hulle het vir 8 jaar mediese- en gemeenskapswerk gedoen.

Sy het in Amerika grootgeword en haar skoolloopbaan aan die Sidwell Friends skool voltooi – ’n privaatskool waar toelating glo baie streng is. Dit lyk omtrent asof sy in uitgesoekte geselskap is! Van die alumni sluit in die voormalige presidente Roosevelt, Nixon en Clinton se kinders. President Barack Obama se dogters is ook in hierdie skool.

Sy het na skool studeer en professioneel vlugbal gespeel. Nadat sy uitgetree het uit dié sport, het die kompetisie-gogga nie ophou byt nie. Sy het besluit om aan skoonheidskompetisies deel te neem.

“Ek was baie skaam en onseker toe ek op skool was ... ek het seker twee vriende gehad en kon nie voor mense praat nie. Maar [skoonheidskompetisies] is ’n goeie manier om selfvertroue te bou,” sê Nanna wat op 27 jaar die oudste Mej. VSA nog is.

Sy het ook die The Meriwether Foundation help stig wat ondersteuning bied vir weeshuise, skole, klinieke in Suidelike Afrika.

Dan is die slimkop ook nog besig om aansoek te doen om medies te studeer én sy sê noudat sy die selfvertroue het om voor mense te praat, is ’n loopbaan in politiek dalk ook in haar toekoms.

Kyk die video HIERONDER om 10 dinge van Nana te leer wat jy nie geweet het nie:

Bron: Washington Post