Die konsep is eenvoudig. ’n Foon lui naby jou. Jy tel op en ’n onbekende stem vra: ‘Wil jy R100 000 wen?’ Wel, wil jy?

Die Foon is ’n opwindende nuwe werklikheidsreeks wat vanaf 20 Mei op kykNET te sien is. Dit is reeds uiters gewild in lande soos Holland, Australië en Amerika. Die sanger Justin Timberlake is juis die vervaardiger van die Amerikaanse reeks wat op MTV uitgesaai is. Twee deelnemers kompeteer met elke episode om binne ’n sekere tyd ’n tas met R100 000 te kry wat in ’n stad in SA versteek is. Deurentyd gee ’n anonieme spelmeester vir die deelnemers take om te doen. Hy gee ook leidrade, maar vir elke leidraad wat die deelnemers kry, word geld van die oorspronklike R100 000 afgetrek. En as jy nie die tas binne drie uur opspoor nie, verloor jy alles. Die frustrasie is hoog en die trane loop. kykNET het mense gewerf om aan ‘n ‘misterieuse speletjie’ deel te neem waar hulle R100 000 kon wen. Hulle het nie geweet waarvoor hulle hulself inlaat nie. Wanneer hulle die foon antwoord, begin die aksie...

VIDEO: Justin Timberlake verduidelik die konsep van die speletjie.

VIDEO: Die voorprent van die Amerikaanse reeks.

* Die foon word weekliks om 20:30 uitgesaai.