Naomi van Mooiplaas skryf:

Vanoggend, soos trouens elke oggend die afgelope drie tot vier weke, was dit weer Rex, die skaaphond, se aanhoudende geblaf wat ons net voor dagbreek wakker gemaak het. Ons is nie meer onrustig daaroor nie, want ons weet, ná die eerste paar oggende se versigtige loer deur die sonkamervenster, dat Rex probeer om ’n ou koedoekoei van die roosbedding weg te hou.

Die rose wat ek elke oggend met die vorige aand se badwater lawe, want die fonteindam is nou al maande lank droog en die boorgat sluk winde. Die laaste roosknoppe is lankal afgevreet en die eens welige roosbome is nou net kaal stokke, soos die karoobossies in die veld.

Ek sleepvoet voordeur toe om dit oop te maak vir die vroeë môre se vars lug. Dis ’n koue luggie wat my begroet. Woestynweer, sou my oupa gesê het. Die ligte geskreeu van die voordeur se skarniere – selfs dit is droog – laat die maer ou koedoekoei onwillig terugstrompel sloot toe. Daar gaan sy die dag tussen eens welige doringbome deurbring. Die droë takke bied darem nog ’n bietjie skuiling teen die skroeiende son en aanhoudende westewind.

Met die terugkeer sien ek Manlief het klaar koffie gemaak en sit sy selfoon neer. Ek weet hy kyk nie meer na YR se voorspelling nie, so hy het seker maar sy whatsapps gelees. Het ek my verbeel of was sy wange ook nat? Met ’n skor stem laat weet hy die buurman by die besproeiingsplaas wat water uit die Oranje-Vistonnel kry, het gesê hy moet ’n paar lusernbale kom haal. Gratis.

Die grondpad was besig vanoggend. Bakkies met waentjies is deesdae gereeld op en af om voerpille, konsentrate, mielies en ander voer by die koöperasies op Middelburg [Oos-Kaap] te gaan koop. Manlief sê maar gemaak trots sy vee is veldaangepas en gehard. Maar eintlik weet almal ons kan nie meer voer bekostig nie. Ook Jannie, voorsitter van die Bo-Suurberg Boerevereniging, sleep met ’n stofstreep dorp toe. Laatmiddag is dit hy wat met ’n vol bakkie en waentjie indraai opstal toe. Klaar gegroet, sien ek dat die bakkie nie vol voersakke is nie, maar vol keurig toegedraaide skoenbokse. Hy haal een met my naam op af. Naomi. Mooiplaas.

“Dis van Wellington se VLV,” kondig hy trots aan. Hulle het mos daai “Skoenboks vir ’n Boervrou”-projek. Skielik onthou ek van die beskuit in die oond en vlieg om huis toe, die dankie het hy seker nooit gehoor nie, want dit was meer ’n snik as ’n woord.

Opgewonde soos ’n sesjarige op Kersoggend sit ek in die spaarkamer, asof ek iets skelms wil doen, en maak eers versigtig en toe haastig en rof die boks oop. Met die oopmaak kom daar die geur van liefde, omgee, hoop en bederf uit. Sjokolade, lekkerruikgoedjies, peuselhappies, ’n mooi boodskappie, ’n motiveringsboek en nog baie ander bederfies. Die kaartjie in die boks het die naam Petro op. “Bel of whatsapp my as jy wil en ’n kansie kry.” Ek besef ek kan nie nou bel nie, want ek sal nie kan praat nie. Want die wete dat daar soveel welwillendheid, omgee, goedheid en naasteliefde in ons land is, het my oorweldig. Nou stortreën die trane soos dit drie jaar laas hier op Mooiplaas ordentlik gereën het, my snikke harde donderslae in die laatmiddag.

Daar is hoop, daar is omgee, daar sal uitkoms wees. Ja, die Here sal voorsien, besef ek weer en ’n kalmte breek deur in my soos die varsheid op ’n Karooplaas ná ’n lekker reënbui. Met ’n huppel in my stap sit ek die stuk in skuur toe. Daar gaps ek ’n stuk lusernbaal, prop dit in die leë skoenboks. Soos ’n stout tiener sluip ek verby tot by die kaal roosboom. Daar sit ek toe die koedoekoei se skoenboks neer . . . (Brief gerig aan Juanita Loubser, VLV Wellington-voorsitter. Brief verkort.)

Met net 60 lede het die Wellington-tak van die Vroue-landbouvereniging (VLV) gehoop op skenkings van “so 80, 90 bokse” vir hul Boks vir ’n Boervrou-projek, die uitreik-aksie waarmee hulle 2019 wou afsluit: ’n klompie bederfbokse vir boervroue in die droogtegeteisterde gebiede van die land.

Maar toe begin die bokse instroom, vanuit alle oorde. In hul duisende . . . van appelkrat-grootte houers tot nommer-twee-skoenboksies. Almal met sorg gepak. En met soveel liefde “dat jy dit letterlik aan elke dingetjie kon ruik”, het een ontvanger dit beskryf. Of soos boervrou Kitta Visser (op ’n plaas tussen Calvinia en Brandvlei) dit stel op die FB-blad van Boks vir ’n Boervrou-Wellington VLV: “Die inhoud was so spot on, die briefie se mooi woorde het soos ’n sagte kombers om my skouers gevou.”

Uit Strydenburg skryf Frieda Louw, wat vrou-alleen boer en “aan die verkeerde kant van sestig is, maar ná ’n goeie nagrus 24 voel en reg vir nog ’n dag se arbeid”: “Dis asof sy my persoonlik geken het en dit spesiaal vir my opgemaak het. In jul pakkie sien ek God en hoeveel Hy vir my omgee.”

Francy Schoeman van die plaas Langbaken, wat ook op die kykNET-program Ons Boere, Ons Inspirasie te sien was, laat weet uit Williston: “Ek voel geliefd en bederf en baie emosioneel. Baie dankie. Ons is ’n gesin van drie en daar was iets vir elkeen van ons. Terwyl ek hier skryf, stroom trane oor my wange. My beker loop oor.”

Uiteindelik het die projek landwyd meer as 22 000 bokse opgelewer, vertel die Wellingtonse voorsitter, Juanita Loubser, wie se drie garages later stampvol was. Van die groter vragte is gestoor in die NG kerksaal van Wellington-Noord. Later was daar ook verspreidingspunte in Bloemfontein, Kimberley, Marble Hall in Limpopo en Volksrust, Mpumalanga.

Die oorweldigende reaksie het hulle net weer laat besef hoeveel Suid-Afrikaners vir mekaar omgee, ongeag waar hulle woon, en hoe gemeenskappe kan saamstaan, sê Juanita.

Juanita en hul taksekretaresse, Karen Barnard, is oorval deur oproepe van mense binne en buite die landsgrense wat wou help. “Mense het aangebied om op pad bokse af te lewer, ’n boer het sy skaaptrok volgelaai en al langs die R62 tussen Montagu en Uniondale afgelaai, ShopriteSA het gehelp met vervoer, Aptekor Sneldiens van Citrusdal het 18 ton vervoer, Agri Wes-Kaap het geld geskenk vir diesel en vervoerkoste . . .

“Baie mense het ook goedere hier vir verpakking afgelaai – ons hande was later swart van die toedraai met koerantpapier! Maar die saamwerk was so lekker. Almal het ingespring. Dit was ’n hartsprojek. Vir 2020 is ons tema juis: Belê in vroue. Die vrou is die rots in die huis.”

In elke boks was ook ’n “Langbeenbossie-ruiker”, geskryf deur ’n afgetrede Karoo-boer wat al ’n erge droogte beleef het – en deesdae ’n nuwe groep aanhangers het. Een boervrou met wie se huwelik dit in die droogte al hoe swaarder gaan, het laat weet hoeveel die “ruiker” haar help om haar man te verstaan en die emosies wat met die droogte deur sy kop gaan.

Al die dankiesê-briewe, whatsapps en vreugdevolle video’s oor elke artikel – van skryfbehoeftes vir die kinders tot kruideniersware – het hulle opnuut geïnspireer om uit te kom by die afgeleë plekkies . . . Lekkersing in die Richtersveld, Gamoep, Kliprand, Biesiesfontein en Daniëlskuil in die Noord-Kaap, Rietbron in die Oos-Kaap. Soms het dit speurwerk en slim logistieke reëlings gekos, en soms het “dinge net wonderlik in plek geval”.

Vanuit die Boesmanland het Juanita ’n oproep van ’n boervrou gekry wat in trane was – in sewe jaar van droogte was dit die eerste keer dat iemand na hulle uitreik.

Ook ander boksprojekte is op eie stoom elders in die land aangepak. Nandi Haswell, ondervoorsitter van die Vrouelandbou-unie (VLU) op die piepklein Ladybrand in die Oos-Vrystaat, het gehelp met die pak en vervoer van sowat twee bakkievragte “vol hoop” van die dorp na Bloemfontein, van waar dit na Prieska in die Noord-Kaap is. Sy was ontroer deur die boervroue wat steeds elkeen ’n boks gebring het, te midde van die droogte op hul eie plase. “Die Boks vir ’n Boervrou-projek is enig in sy soort! Dit is die emosionele bystand wat iemand anders vir jou gee. Wat weet wat dit beteken om jou man te ondersteun as jy self nie meer luukses kan bekostig nie. Dis ’n boks vol liefde, geloof en hoop.”

Leser Evelyn de Villiers van Badshoek, Beaufort-Wes, skryf aan SARIE toe hare uit die bloute opdaag, het hulle laer daarom getrek. “Isabella, die vrolike baba, het die purper lint gekry wat reeds voorspel dat die inhoud iets spesiaals gaan wees. Dan, ’n kaartjie van Corrie Muller van die VLV Wellington. Min woorde, maar genoeg om die damwal te breek. Onnodig van haar om te sê dat sy die boks met baie liefde en omgee gepak het. “Corrie, duidelik het die Oophand-Engel al my gunstelinge in jou oor gefluister. My pa het gesê terwyl jy in die veld loop en bid vir reën, moet jy fluit. Die regte reënwind reageer dan, en daar stuur jy sowaar twee pakkies aanmaak-energiepoeier. Een vir my fietsry-skoonseun en een vir my wat in die berge met die liewe Heer en die wind onderhandel.

“Die dadels lê en week, môre eet ons dadelbrood. Die kondensmelk, muffinmengsel en goeie koffie en koekies bêre ons vir die reënfees. Dan ook nog luukse stortseep en lyfbotter. En sowaar handgebreide handskoene. Wanneer ek in die winter in die berg loop en dankie sê vir die reën en die genade van uithou, weet ek dat ’n deel van jou saam met my dankie sê. Vir elke boervrou wat so bederf word, kry ek lekker, maar vir die Corries van die VLV weet ek seën en voorspoed sal julle bederf. Dankie. Baie, baie dankie.” (Brief verkort.)

Blikkies, sakkies en bokse . . .

- Toe duisende Britte en Europeërs deur die Tweede Wêreldoorlog ontwortel is en deur honger in die gesig gestaar is, het 22 Amerikaanse hulp-organisasies saamgespan – en CARE (voorheen Cooperative for American Remittances to Europe) gestig. Die eerste 15 000 CARE-bokse met kosvoorraad het op 11 Mei 1946 die hawe van Le Havre in Frankryk bereik. Bokse was bloot gerig aan: “’n Honger man in Londen” of “’n Weduwee en ma in Italië”. Duisende Amerikaners en Hollywoodsterre, aangegryp deur hul lot, het by die projek betrokke geraak. (The Guardian)

- In die jare sewentig en tagtig het Suid-Afrikaanse dienspligtiges wat vir grensdiens opgeroep is of oor die Kerstyd op die grens was, ’n toerits-leersakkie by die Suiderkruisfonds, onder leiding van Elizabeth Albrecht, gekry. In die “Dankietannie-pakkie”, soos troepe dit genoem het, was onder meer ’n rooi of swart knipmes (die rooie was veral gesog), skryfblok, peuselgoed, spieëltjie, naelknipper en naaldwerksakkie.

- Koningin Victoria het in 1900 geskenkblikkies met sjokolade vir Britse soldate in die Anglo-Boereoorlog gestuur “om hulle op te beur”. Die maatskappye Cadbury, Fry en Rowntree was pasifiste, gekant teen oorlog en wou nie hul handelsmerk op die blikkies hê nie. Die koningin het aangedring dat troepe moes weet dis Engelse sjokolade, en die naam is toe op die sjokolade-omhulsels behou, maar die blikkies (met haar afbeelding op) was sonder handelsnaam. (Daily Mail)