As jy ooit getwyfel het aan liefde met die eerste oogopslag, sal Carlo en Martiné Nolte se storie jou van plan laat verander.

Martiné (27) en Carlo Nolte (30) het mekaar die eerste keer in 2011 tydens die landbouskou op Victoria-Wes gesien: hy ’n skaapboer van Loxton en sy ’n omgewingsouditeur van Port Elizabeth wat boere help om hidrobreking (fracking) te beveg.

“Toe ek haar sien, het ek net geweet. Ek kan daai gevoel nie beskryf nie,” vertel Carlo. Sy sê weer: “Ek het onmiddellik geweet: Hier gaan ek bly.

“Die dag daarna is ek saam met ’n ander ou na ’n Valentynsbal toe, maar Carlo het daar opgedaag en vir my date gesê hy mors sy tyd want hy gaan my afvry en met my trou. Toe gaan hy voor almal op sy knie en vra my om sy meisie te wees. En dis hoe my ma haar droom-skoonseun gekry het!”

Sewe maande later het hulle verloof geraak en nog ses maande later, in Maart 2012, het hulle getrou. Nou maak hulle reg om hul eerste pienkvoet in Februarie in die natuurskoon van die Karoo te verwelkom.

Hul manier van doen

Die Karoo is mooi, maar die plaaslewe is bitter stadig, vertel Carlo, en daarom moet hulle “kreatief raak” om die romanse lewend te hou. “Ons doen moeite om geleenthede by te woon, al is dit ver. Ons dink dinge uit om te doen en bederf mekaar gereeld,” sê hy. “Jy moenie in ’n groef verval of te gemaklik met mekaar raak in jul verhouding nie. Hou dinge interessant. Wees spontaan. Dís hoe jy die sprankel behou.”

“Ons sit nie elke aand voor die televisie nie,” voeg Martiné by. “Ons hou kaartspeel-aande. Ons hou fondue op die mat. Ons two-step op die stoep. Of ons gaan met die boot uit op die dam en kyk na die sonsondergang.” Sy raak elke dag van voor af op haar man verlief, sê sy. “Hy’s vir my op sy mooiste in sy werksklere. Wanneer hy uit die veld uit gestap kom of met die trekker by my verby ry, dink ek, jissie, daai sexy man is myne.”

Nie altyd maklik nie

Wanneer dit by uitdagings kom, gesels hulle oor alles. “Ons probeer saam ’n oplossing vind,” sê hy. “Ons is nie bang om vir mekaar te sê: Jou plan gaan nie werk nie. Of as iets wat die ander een gedoen of gesê het die ander ontstel nie. Ons is mekaar se grootste kritici en grootste ondersteuners. Dis wat vir ons werk: kommunikasie en eerlikheid,” sê Martiné.

Hulle besef ’n huwelik is nie aldag maanskyn en rose nie. “Maar,” sê Martiné, “ons kan enige uitdaging saam aanpak.”

“Ja,” knik Carlo. “Ons was van dag een af ’n hegte span.”