Die aktrise het aan die Daily Mirror gesê solank daar 'n kans is dat sy kan werk, sal sy dit doen.
"As ek aftree gaan als agteruitgaan, en dis moeilik genoeg soos dit is," het dame Judi gesê.

Sy werk nou in Londen aan die splinternuwe James Bond-fliek, Skyfall. Sy kan net gesigte uitken wanneer mense reg voor haar staan.

"Die angswekkendste ding is om saans oorkant mense in 'n restaurant te sit en jy kan nie hul gesigte sien nie. Dan gebeur daar dalk iets aan tafel, maar ek kan nie sien wát nie. Dit frustreer my, want ek weet ek mis uit," het sy gesê.

Dench het nou hulp nodig om haar tekste te memoriseer.

"As gevolg van my oë kan ek nie meer my woorde lees nie. Iemand kom in en lees dit dan soos 'n storie vir my voor. Gewoonlik is dit my dogter, my agent of 'n vriend. En ek hou nogal daarvan, want ek kan daar sit en die storie in my gedagtes laat afspeel," het sy gesê.

Klik om meer te lees oor makulêre degenerasie


Skyfall, die 23ste James Bond-fliek, word nou in Londen verfilm. Daniel Craig is weer in die rol van Bond en hierby gróót name soos Berenice Marlohe (die Bond-meisie), Javier Bardem, Ralph Fiennes en Naomie Harris.