Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het na bewering vroeg vanoggend (Donderdag) sy meisie, die model, Reeva Steenkamp, in sy huis in Silverwoods Country Estate, Pretoria doodgeskiet, berig Beeld.

Hy het glo gedink sy is 'n inbreker.

Kaptein Sarah Mcira het bevestig Oscar se meisie is in die arm en in die kop geskiet. Sy is op die toneel dood.

Oscar is in hegtenis geneem in verband met die voorval. Hy sal na verwagting later vandag in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Hy het volgens berigte erg geskok gelyk op die toneel waar die polisie hom ondervra het.

Oscar het in ’n Februarie 2013-uitgawe eksklusief met SARIE gepraat. In hierdie video gesels sy sus met ons oor haar broer, Oscar.