En sedert hy sowat ses jaar gelede gehoor het sy kanker is in remissie, beywer hy hom daarvoor om mense meer bewus daarvan te maak.

Hy glo hy het die siekte oorwin deur ‘n kombinasie van positiwiteit, ‘n skootjie geluk, vroeë opsporing en uitstekende mediese sorg. Hy was altyd die toonbeeld van blakende gesondheid: Hy het nooit gedrink of gerook nie en was super-fiks. Maar rugpyn het hom aanmekaar begin teister en hy het ’n uroloog besoek. (Hy het gedink dis dalk ‘n niersteen.) ’n Skandering het gewys daar is ‘n knop so groot soos ‘n mango naby sy maag. Dit het druk op sy niere geplaas en was boonop besig om te versprei, maar het gelukkig nie sy belangrikste organe aangetas nie.

“Die ergste vrees is die onsekerheid. Jy weet nie of jy gaan lewe of gaan sterf nie. Is jy gelukkig omdat jy gediagnoseer is en met behandeling kan begin? Of om dieselfde rede dalk ongelukkig?” sê hy.
Ná die derde sessie chemoterapie het die gewas reeds begin krimp. Ná ses weke het dit heeltemal verdwyn.

Chris is die afgelope twee jaar een van die gesigte van die I am the voice of lymphoma-bewusmakingsveldtog. (September is wêreldwyd limfoom-bewusmakingsmaand.) Hy staan ook limfklierkanker-pasiënte by, emosioneel en met geldinsamelingsveldtogte om hul rekeninge te help betaal.