Die vervaardigers van die Afrikaanse fliek Pad na jou hart het onlangs van Cannes in Frankryk teruggekeer nadat hulle dié internasionale rolprentfees bygewoon het.

Ivan Botha en Donnalee Roberts wat die verliefde Amory en Basson in Pad na jou hart speel, het hul herinneringe aan hul heel eerste Cannes-rolprentfees oor die telefoon met SARIE.com gedeel. Dié twee, wat die draaiboek geskryf én die fliek help vervaardig het, het dié besonderse reis saam met vervaardiger Danie Bester aangepak. Dit was Danie se vierde keer by die fees.

"Dis so oorweldigend! Dit neem omtrent twee dae om jouself te oriënteer en gewoond te raak aan al die mense en films," onthou Ivan. "Dit was ’n baie waardevolle leerervaring."

Die Pad na jou hart-span se groot doel was om ’n internasionale verkoopsagent te kry wat die fliek in die res van die wêreld kan verteenwoordig. Omdat daar internasionaal meer onafhanklike fliekteaters is as in Suid-Afrika, het rolprentvervaardigers agente nodig om die fliek aan dié teaters te verkoop.

Vervaardiger Danie Bester saam met Ivan en Donnalee FOTO: verskaf Vervaardiger Danie Bester saam met Ivan en Donnalee in Cannes, Frankryk.
FOTO: verskaf

"Ons het op die nippertjie besluit om te gaan en ná ’n klomp vergaderings ’n agent gekry oor wie ons ’n goeie gevoel het. Ons is baie dankbaar," vertel Ivan opgewonde. Vir die twee sterre was hul kuier in Cannes ’n onvergeetlike ervaring.

"Mens se oë gaan oop vir die wêreld van films," sê Donnalee. "As filmmaker was dié besoek hoog op my bucket list, dit het my horisonne baie verbreed."

"Dit gee jou perspektief om te besef hoe klein ons is in vergelyking met die wêreld, maar ook om te sien hoe ver gevorder ons land en taal al in die filmwêreld is," las Ivan by.

Donnalee Roberts en Ivan Botha by vanjaar se Cannes-rolprentfees. FOTO: verskaf Donnalee Roberts en Ivan Botha by vanjaar se Cannes-rolprentfees. FOTO: verskaf

Danie, Donnalee en Ivan by die Cannes-rolprentfees. FOTO: verskaf Danie, Donnalee en Ivan by die Cannes-rolprentfees. FOTO: verskaf

Ivan spot en sê dié foto is van hom by sy boot ... FOTO: verskaf Ivan spot en sê dié foto is van hom by sy boot ... FOTO: verskaf

Ivan by die fees. FOTO: verskaf Ivan by die fees. FOTO: verskaf

Donnalee was vanjaar een van net vyf rolprentmakers wat deur Suid-Afrika se National Film and Video Foundation (NFVF) genooi is om die fees by te woon. "Daar is ’n wonderlike kultuur van films en selfs op die rooi tapyt is daar streng reëls oor kleredrag," sê Donnalee wat haar aandrokke ook moes inpak vir dié uitstappie.

Hulle het nie baie van die sterre gesien nie, maar het wel die geleentheid gekry om na die groot rooi tapyt waar al die sterre geloop het, te kyk. "Ons het darem Ryan Gosling se kantprofiel van so 50 meter af gesien," spot Ivan, en Donnalee lag saam.

Die rooi tapyt by die legendariese Cannes-rolprentfees FOTO: verskaf Die rooi tapyt by die bekende Cannes-rolprentfees.
FOTO: verskaf

Donnalee kry haar oomblik op die rooi tapyt FOTO: verskaf Donnalee kry haar oomblik op die rooi tapyt.
FOTO: verskaf

Dié twee vlieg ook Donderdag Australië toe, waar hulle Pad na jou hart in Perth, Brisbane en Sydney gaan bemark.

"Ons gaan so ’n paar spesiale geleenthede hou, soos premières en ’n sokkie!" vertel Ivan. Hy sê dis die eerste keer dat ’n Afrikaanse fliek só ’n tipe première in Australië gaan hou.

"Dis vir ons lekker om ons fliek na al die Afrikaanse mense in Australië ook te vat," voeg Donnalee by.

Vir dié twee jong filmmakers is hul droom nou om in die toekoms nóg flieks te maak wat Suid-Afrikaners sal trots maak én wat mense regoor die wêreld sal wil sien.

Nóg oor Pad na jou hart op SARIE.com