“Na drie jaar het Kurt besluit dat daar ’n nuwe fase in sy loopbaan is. Hy gaan vir eers fokus op musiek, wat steeds die naaste aan sy hart lê,” het kykNET op Twitter gesê.

Kurt het op sy Twitterblad dieselfde laat hoor: “Ek is so opgewonde. Na drie jaar op Jukebox maak ek klaar die naweek. Hier kom groot dinge!”

Pieter Koen gesels met sarie.com:


Hoe voel jy oor die nuwe wending in jou loopbaan?

Ek is so opgewonde hieroor dat ek letterlik nie my lag kan hou nie. Dit terwyl ek bewus bly van die reuse verantwoordelikheid om dié ongelooflike werk wat Kurt gedoen te bly doen en dit vol te hou.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy is die nuwe aanbieder?

Ek was letterlik soos ’n klein seuntjie en het gesukkel om my emosies te beheer. Ek dink ek het gegiggel soos ’n dogtertjie en my biscuit amper uit lit uit geskud!

Wanneer kan ons jou eerste episode sien?

Volgens beplanning gee Kurt amptelik die leisels aan my oor eerskomende Sondag, 12 Junie 2011.

Gaan jy steeds betrokke wees by Kwêla?

Soos onderhandel met Pieter Cilliers Produksies en KykNet, sal ek ’n veldaanbieder op Kwêla bly.

Gaan daar enige iets verander by Jukebox, of gaan jy op dieselfde trant aan as Kurt?

Dit maak glad nie sin om die bestaande konsepte te probeer herontwerp nie, maar ons gaan beslis 'n paar veranderinge na die tafel bring. So ja,daar wag beslis ‘n paar opwindende verrassings...

Wat beteken dit vir jou om die nuwe aanbieder te wees?

Dit beteken vir my en my loopbaan ongelooflik baie! Ek is dankbaar vir elke fan se ondersteuning, Pieter Cilliers wat my potensiaal as TV aanbieder jare terug raakgesien en ontgin het, asook dat Kurt my so betrokke gemaak het by die program. Dis so amazing om na soveel jare in die bedryf eindelik nie net my eie nie, maar so groeiende, dinamiese program te kan anker.

Waarna kan kykers van Jukebox uitsien?

Soos gesê, wag daar heelparty verrassings op kykers, maar oor die algemeen sien ek daarna uit om ’n tipiese Pieter Koen-flavour aan die program te verleen.