Is Kate Middleton se suster verloof, of nie? Dít is wat die bronne sê! 

Volgens berigte in onder meer die Amerikaanse publikasie US Weekly het die 30-jarige Pippa en haar ryk bankier kêrel, Nico Jackson (36), vroeër die maand in Indië verloof geraak. ’n Bron het aan dié publikasie vertel dat Nico haar op ’n baie romantiese manier gevra het en dat hulle beplan om volgende jaar voor die kansel te staan.

Maar nou berig die Britse skinderblad Daily Mail dat dit glad nie so is nie. ’n Anonieme vriend van Pippa het glo aan dié blad gesê dat hulle nié verloof is nié - maar dié dag kom vinnig nader.

Volgens hom wil die paartjie eers baie reis voordat hulle verloof raak - iets wat hulle ook nou doen. Toe hulle op 10 Desember van hul Indiese vakansie terugkeer, was daar geen teken van ’n verloofring aan Pippa se hand nie, maar dié paartjie vlieg glo net ná Kersfees na die Alpe toe om die Nuwejaar daar te vier.

Die verteenwoordigers van die Middleton-gesin het nog nie die verlowingsgerugte bevestig óf ontken nie.

Pippa en Nico gaan al vir sowat 15 maande uit, en gerugte oor hul verlowing en troudatum is sedert September vanjaar vollop. Hou SARIE.com dop vir die jongste nuus oor dié paartjie en ander bekendes.