Dewald Wasserfall het ná hy sy album Vergeet wat jy weet van liefde uitgereik het, net gehoop dat dit goue status sal bereik. Maar sy verwagtinge is oortref. SARIE.com gesels met hom oor die album se platinumstatus.

Die sanger het dié goeie nuus ontvang toe Jacaranda FM se Morné JK hom op die verhoog by die Innibos-fees verras het.

"Ek was heeltemal uit die veld geslaan! En omdat ek dit in die middel van die vertoning gekry het, moes ek die heeltyd net onthou wat die volgende liedjie is wat ek moes sing," vertel Dewald.

Alhoewel hy geweet het sy album se verkope is naby die 40 000-merk, het hy nie verwag dat dit reeds die afgelope naweek sal gebeur nie.

Sanger Theuns Jordaan ontvang óók platinumstatus by Innibos

"Ek kon dit nog nie regtig vier nie. Ná die aankondiging moes ek voorberei vir die volgende aand se groot vertoning. En die volgende dag was ons almal net te moeg om te vier."

Maar dis ’n geleentheid wat Dewald wíl vier. Hy hoop om teen volgende week tyd in sy besige skedule te maak vir ’n groot feesviering.

"Ek sal graag tyd wil maak om vir almal wat dit moontlik gemaak het, soos Johan Vorster Musiek en my vrou, dankie te sê."

Dewald toer saam met Willem Botha en Monique

Hy onthou nog dat hy oorspronklik net gehoop het Vergeet wat jy weet van liefde, met treffers soos "Sewentien" en "Eendag as ons groot is", sal goue status bereik.

"Maar toe dít gebeur, het ek besluit om vir myself die uitdaging te stel om platinum te behaal," onthou hy. Nou fokus Dewald op sy nuwe album, Ek en jy en ’n donderbui, wat binnekort uitgereik gaan word.

Dewald praat oor goue status

"Ek gaan net weer my alles gee en hoop en bid dat dit sal uitwerk," verklap hy oor sy planne met die nuwe album.

Lees nóg oor Dewald op SARIE.com