Ons eerste kennismaking met Pottie was in die gewilde eenmanvertoning, Die uwe, Pottie Potgieter, wat deur die meesterverteller Dana Snyman geskryf is. Dana is veral bekend vir sy rubrieke in Weg! en Beeld. In die verhoogstuk is Pottie (Frank Opperman) 'n middeljarige man wat sy werk verloor het en ná meer as 100 werksonderhoude nog by die huis sit, sonder werk.

In die TV-reeks is Pottie steeds werkloos en sy vrou is in Saoedi-Arabië waar sy werk om die pot aan die kook te hou. Ons ontmoet ook 'n klomp kleurryke karakters: Pottie se skoonma Baby (Elize Cawood), met wie hy nie aldag oor die weg kom nie, sy vriend Tiny (Ben Kruger), sy tienerseun, Sebastiaan (Kaz McFadden), wat in matriek is en met veral Wiskunde sukkel en dié se meisie Tascha (Cherie van der Merwe).

SARIE is uitgenooi om na een van die episodes van Die uwe, Pottie Potgieter te kyk. Dit begin 6 Augustus op SABC2.

Dana, wat ook die skrywer van die TV-reeks is, boor 'n komedie-aar raak. Nes sy rubrieke, wys hy met Die uwe, Pottie Potgieter, hy ken die gewone man op straat en sy alledaagse probleme. Die uwe, Pottie Potgieter is snaaks sonder smerigheid. Regisseur André Odendaal noem dit 'gentle comedy'. En niemand druk 'n pastei in iemand se gesig nie, sê hy.

*Kyk Vrydagaande om 18:00 na Die uwe, Pottie Potgieter op SABC2