Paul Kruger en almal by Hartiwood Studio's, die brein agter die gewilde Liefling, is besig met iets GROOT!

“Daar is nog nooit in Afrikaans so iets gedoen nie,” vertel Paul met hoorbare opwinding in sy stem. Hy en Machiel Roets werk al van September verlede jaar aan die teks en liedjies vir Pretville, 'n musical wat selfs Steve Hofmeyr se voete laat kriewel.

Pretville is ’n geïsoleerde klein dorpie in Suid-Afrika waar al die inwoners mekaar ken en almal baie pret het.

Die prent speel af in die 1950’s, maar nie die 50’s wat enigiemand sal onthou nie. Dit is in daardie tydperk, maar onder unieke omstandighede sonder enige verband met die Suid-Afrika van daardie tyd. Met retro modes, musiek en selfs ’n diner!

“Machiel was vir 12 jaar in Londen, waar hy ondervinding van onskatbare waarde in onder meer die West End opgedoen het,” gaan Paul voort. “Ons het 20 splinternuwe liedjies spesiaal vir Pretville geskryf.” Dit is lekker 50’s-styl liedjies, wat sal herinner aan Amerikaanse rock en jive uit daardie tyd, maar met Afrikaanse lirieke. “Dit wérk net,” sê Paul.

Steve het Woensdag ’n rol in Pretville aanvaar en die volgende op sy Facebook-blad geskryf: “Ingestem vir ’n fliek volgende jaar met die wonderlike LIEFLING mense: Pretville, die 50’s Afrikaanse Musiek-rolprent (ai, as my pa kon gelewe het om dit sien het)."

“Dit is die feelgood-fliek waarvoor mense al jare wag. Oud en jonk sal daarmee kan identifiseer. Jy sal jouself én jou mense daarin herken, en dit sal jou laat wens jy was een van die inwoners van dié klein dorpie, Pretville,” gesels Paul.

Pretville is nou in pre-produksie en sal in 2012 geskiet word. Volgens beplanning sal dit einde 2012 in teaters begin wys. Maar jy kan maar baie uitsien daarna, want van ons voorste kunstenaars sal daarin te sien wees, en dit gaan die gesig van Afrikaanse musiekrolprente vir ewig verander.

Steve het dié foto op sy Twitterblad geplaas na hy in die ateljee was, en geskryf: "Ek sing Pretville klankbaan. Dink Grease/Shanana/Elvis. Ons maak die fliek in Maart en premierre is  6 November 2012!"

Steve in Pretville

Willm Botha het na sy dag in die ateljee die volgende op sy Twitterblad geskryf: "Baie opgewonde oor die dag wat voorlê! Doen vandag die vocal recordings vir Pretville. Nuwe journey waarvoor ek so dankbaar is."

Bly ophoogte duer Pretville se facebook blad te like of besoek www.hartiwood.com

Marlee van der Merwe speel die hoofrol in Pretville, kyk hier vir meer

Hier is die eerste kykie na wat jy kan verwag in Pretville