Charlene het Suid-Afrika verlede week besoek vir haar Prinses Charlene van Monaco-stigting en om ‘n vriend se troue by te woon. Haar stigting help tans met die opgradering van die munisipale Lahee Park-swembad in Pinetown – haar ou oefenbasis en waar Chad le Clos ook oefen. In ‘n onderhoud het dié 35-jarige prinses gesê ‘n gesin vir haar en Prins Albert is in die nabye toekoms.

“Ek wou eers my stigting begin het. Ek wil dit vir die volgende paar maande op die been bring voordat ek kan rus. Ons het ‘n groot troue gehad met groot aanpassings vir my daarna. Noudat ek rustiger en aangepas is, dink ek kinders sal volg.”

Charlene Wittstock

Dit is nie verbasend dat Charlene ‘n stigting opgerig het wat swem bevorder nie. Sy het vir Suid-Afrika medaljes by die Gemenebes Spele en by die Afrika Spele ingepalm én by die 2000 Olimpiese Spele in Sydney meegeding. Sy het gesê borge was in dié tyd maar skaars en sy en haar spanmaats het deur moeilike finansiële tye gegaan.

“Ek sal niks aan daardie dae verander nie, want ek dink nie ek sal die persoon wees wat ek vandag is as ek nie deur dít alles gegaan het nie. As alles op ‘n skinkbord aan my gegee is, sou ek dalk nie so dankbaar gewees het en nou wou teruggee nie.”

Daarom wil sy nie haar stigting gebruik om luukse swembaddens en oefenplekke op te rig nie, maar eerder net die toerusting en hulp verskaf sodat ywerige swemmers sukses kan behaal. “Dit is fantasties om huis toe te kom en mense te help wat ek weet baie hard sal werk om die kinders af te rig. Dít is die mense wat ek wil ondersteun,” het sy gesê.

‘n Groot deel van haar stigting is ‘n program wat kinders leer swem, omdat so baie kinders verdrink. Sy het ook twee meisies gekies as ambassadeurs vir haar stigting, die 11-jarige Khwezi Duma en die 10-jarige Zoë Frank. Hulle is deel van ‘n elite groep van agt jong vroue wat oefen vir die 2016 Rio de Janeiro Olimpiese Spele. Die Prinses Charlene-stigting help hulle nie slegs met swem nie, maar ondersteun ook hulle skoolloopbaan.