Die hof het ten gunste van die paartjie beslis in ’n saak waarin Charlene se man, prins Albert, ’n Europese koerant gedagvaar het. Die koerant het berig dat hy Charlene in ’n skynhuwelik geboelie het, haar paspoort weggesteek het en sy rug draai op verskeie korrupte aktiwiteite in Monaco. Die koerant moes om verskoning vra en beken dat alle aantygings onwaar is. Hulle moes ook die prins se regskoste dek en skadevergoeding aan die paartjie betaal.

Maar dit is ook die rolprent, Grace of Monaco, wat handel oor Charlene se skoonma, wyle prinses Grace, wat die Monaco-koninklikes ongelukkig maak.

Prinses Grace se kinders, prins Albert, prinses Caroline en prinses Stéphanie het die draaiboek van Arash Amel afgeskiet. Hulle sê dit bevat historiese onwaarhede en dat dele geheel en al fiktief is. Die Amerikaanse Grace Kelly is in 1956 met hul pa, prins Rainier van Monaco, getroud en was daarna bekend as prinses Grace van Monaco.

Nicole Kidman speel die rol van Grace Kelly, maar Charlize Theron is glo ook oorweeg vir dié rol. Die draaiboek was in 2011 op ’n Hollywood-lys van draaiboeke wat nog nie gemaak is nie, maar wat groot potensiaal het.

Gelukkig het die koninklikes tussen alles deur darem tyd vir ontspan ook. Charlene en Albert het saam met prinses Stéphanie van Monaco en haar 18-jarige dogter, Pauline Ducruet, die gala-aand van die 37ste internasionale sirkusfees in Monte Carlo bygewoon. Charlene het beeldskoon gelyk in ’n swart rok, met helderrooi lippe en ’n gladde haarstyl. Haar klassieke styl herinner ons so baie aan dié van Grace Kelly.