Dit was 'n wonderlike geleentheid waar tydlose Kaliforniese styl, aardse materiale en prag-tuine tot die sprokiestroue bygedra het, en het op Reese se eie landgoed in Ojai, Kalifornië, plaasgevind.

Monique Lhuillier het die rok wat gaste se asem weggeslaan het, ontwerp. Dit het bestaan uit 'n korset-bostuk van chantilly-kant en 'n A-lyn-romp van tulle, wat met 'n satynlint en blomme verfraai is. Dit het gepas by die rok wat Reese se dogter, Ava (11), wat ook die bruidsmeisie was, gedra het.

By die onthaal het Reese 'n ander Lhuillier-skepping aangehad – 'n wit satynrok.

Gaste het aan die tydskrif People vertel dat dit 'n familie-troue was vol liefde, vreugde en gelag.

Reese was voorheen met Ryan Phillippe getroud, wat binnekort in The Bang Bang Club te sien sal wees. Ons eie Eish-man, Neels van Jaarsveld, en Frank Rautenbach sal ook in dié fliek te sien wees, wat handel oor die ervarings van vier fotograwe wat die laaste dae van die apartheidsera op film verewig het.