In 2001 het die Hollywood-ster Renée Zellweger 'n transformasie ondergaan. Sy het haar Amerikaanse twang met 'n Britse aksent vermom en 14 kg opgetel. Hoekom? Vir die rol van die enkellopend-ewig-opsoek-na-liefde Bridget Jones in die fliek Bridget Jones's Diary. Haar vertolking het vir 'n beste aktrise-benoeming by die Oscars gesorg.

FOTO Instagram / @alixsdiary

Die pragtige blondine het nou weer, soos 'n verkleurmannetjie, 'n gedaantewisseling ondergaan. Dié keer is sy 'n brunette en haar blou oë is nou bruin. Haar rol? Die Hollywood-ikoon Judy Garland.

Renéé gaan die hoofrol in die biografiese-rolprent Judy vertolk. Die fliek speel af in 1968 toe Judy in Londen gearriveer het om uitverkoopte vertonings op te voer. 'n Jaar later is Judy aan 'n oordosis oorlede. Sy was net 47 jaar oud.

'n Foto van Renée as Judy is onlangs vrygestel. Kan jy die ooreenkomste sien?

Judy Garland (links) in 1960 en Renée Zellweger as dié Hollywood-ikoon.

In 1939 het Judy as 17-jarige 'n reuse ster geword toe sy Dorothy Gale in die musiekblyspel-fliek The Wizard of Oz gespeel het. Haar engelstem het "Somewhere Over a Rainbow" 'n treffer gemaak.

Daarna het sy in verskeie flieks gespeel en was selfs twee keer vir 'n Oscar benoem. Die eerste keer was vir haar rol in A Star is Born (1954) en die tweede keer vir Judgment at Nuremberg (1961). Maar in 1955 het Grace Kelly vir The Country Girl die beeldjie vir beste aktrise gewen.

Judy in haar bekendste rol as Dorothy Gale in 'The Wizard of Oz'. FOTO Getty Images / Gallo Images

Judy se persoonlike lewe was nie altyd maanskyn en rose nie. Inteendeel dit was hartseer.

Sy was vyf keer getroud en het drie kinders in die lewe gebring  Liza Minnelli ('n Oscar-wenner), Joey Luft en Lorna Luft. Die druk om, sedert tienertyd, 'n Hollywood-ster te wees het 'n negatiewe impak, emosioneel en psigies, op haar gehad. Haar selfbeeld was verskeie kere afgekraak omdat Hollywood haar "onaantreklik" gevind het.

Sy het op 'n jong ouderdom aan dwelms en drank verslaaf geraak.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hier sing Judy die bekende lied "The Man That Got Away" uit The Star is Born:

Renée gaan glo ook sing in dié fliek. Sy was in 2002 vir 'n Oscar-benoem vir haar rol as Roxie Hart in die bekroonde musiekblyspel Chicago.

Kyk hoe sing en dans Renée:

Gaan haar vertolking vir 'n Oscar-benoeming sorg?