Big Concerts het verlede week wenke gegee oor wie die volgende musiekster is wat in Suid-Afrika gaan optree – maar soos wat die Mail and Guardian berig, was dit een van die swak bewaarste geheime in ’n lang tyd.

Alhoewel Big Concerts dit eers vanoggend amptelik bekend gemaak het, het mense lank gegis dat die ster net Rihanna kan wees.

Big Concerts

Dié 25-jarige sangeres van Barbados gaan Suid-Afrika in Oktober besoek.

Dit is wel nie die eerste keer dat Rihanna in Suid-Afrika optree nie, sy was in 2006 die openingsvertoning vir Jay-Z toe hy Suid-Afrikaanse gehore vermaak het. Hoewel sy baie in kontroversie gedompel is (soos toe sy haar kêrel, Chris Brown, vergewe het nadat hy haar na bewering fisies aangerand het) is sy steeds een van die grootste musikante.

Sy het al meer as 30 miljoen albums verkoop met verskeie toekennings onder haar belt, onder meer 7 Grammy’s, 5 American Music-toekennings en 18 Billboard Music-toekennings.

Sy is ook in 2012 deur Forbes aangewys as die vierde mees invloedrykste celeb.

Maar Rihanna het ook al konserte gekanseleer wanneer sy te siek was om op te tree. Daarna het sy foto’s van haarself via Twitter gedeel waar sy in die hospitaal lê. Rihanna tree op 13 Oktober 2013 in Johannesburg op en op 16 Oktober in Kaapstad. Kaartjies is vanaf 11 April vir Johannesburg beskikbaar en 12 April vir die Kaapstad-vertoning. Koop jou kaartjies deur Computicket of deur Big Concerts.