Robert het Woensdag op die TV-ontbytprogram Good Morning America verskyn om oor sy nuwe fliek, Cosmopolis, te gesels. Dit was sy tweede onderhoud nadat dit aan die lig gekom het dat sy voormalige meisie, die Twilight-ster en aktrise Kristen Stewart, hom met die getroude regisseur van Snow White and the Huntsman, Rupert Sanders, verkul het. 

Toe hy uitgevra is oor sy verbrokkelde verhouding het hy na 'n boks van sy gunsteling-ontbytpap gegryp (Cinnamon Toast Crunch wat die onderhoudvoerder, George Stephanopoulos, spesiaal vir hom gebring het) en daaroor begin babbel.

"Almal wil weet hoe dit met jou gaan. Wat sou jy wou hê moet jou aanhangers weet van jou persoonlike lewe?" het Stephanopoulos vir Rob gevra.

"Ag, jy weet, hulle raak opgewonde oor omtrent enigiets ..." het hy geantwoord. "Ek wil hê my aanhangers moet weet dat Cinnamon Toast Crunch net 30 kalorieë per bakkie bevat ... Alles wat uit my mond kom, is irrelevant."

In die heel eerste onderhoud op The Daily Show het hy roomys geëet om die vrae te vermy.

"'n Mens besluit jy wil flieks maak. Ek het nog nooit daarin belang gestel om my persoonlike lewe te verkoop nie. Die rede hoekom 'n mens op TV verskyn, is om jou flieks te bemark," het Robert gesê.

"Dit lyk asof dit oukei gaan met jou?" het George gevra.

"Ja, ja," het Rob geantwoord.