Inskrywings is amptelik oop vir die SA Bachelor & Bachelorette-kompetisie. Maar hierdie kompetisie soek baie meer as net ’n mooi gesiggie.

Bekendes soos die aktrise Rolanda Marais, sanger Jacques Terre’blanche en Dagbreek-aanbieder Rozanne McKenzie is van die beoordelaars vir dié kompetisie.

Die SA Bachelor & Bachelorette-kompetisie word vanjaar vir die vierdie keer gehou en is op soek na twee baie spesiale mense in Suid-Afrika. Dit is nie ’n skoonheidskompetisie of TV-reeks nie, en die deelnemers soek glad nie liefde nie. Die beoordelaars soek mense wat ’n sterk entrepreneurskapgees en ’n passie vir liefdadigheid het.

Die wenners gaan onder andere ambassadeurs wees vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).

Kandidate sal gedurende Junie en Julie in Krugersdorp, Kaapstad, KwaZulu-Natal en Johannesburg beoordeel word. Finaliste sal media-gesellighede bywoon en geldinsamelings reël voordat die wenner by ’n rooitapyt-geleentheid in Johannesburg se Silverstar Casino aangekondig word.

Dit is waarna die beoordelaars gaan kyk vir vanjaar se kompetisie.

Rolanda: “Persoonlikheid is beslis ’n belangrike kriteria, maar ook ’n goeie balans tussen hoe hy of sy hulself uitdruk en die selfvertroue wat hulle uitstraal. Die Bachelor & Bachelorette is ’n baie waardevolle inisiatief en daarom soek ek na twee persone wat baie vir hul medemens omgee en wat ook goeie ambassadeurs vir Kansa sal wees.”

FOTO: SARIE Rolanda Marais FOTO: SARIE

Rozanne: “Ek sal na twee mense met sterk persoonlikhede soek. Twee mense wat in ’n vertrek instap en onmiddellik ’n indruk maak met hul teenwoordigheid en die manier waarop hulle met ander praat. Kansa is ’n organisasie wat my baie na aan die hart lê, en daarom moet die twee wenners baie passievol wees oor die projekte waaraan hulle werk en innoverende idees implementeer om geld in te samel.”

Rozanne en baba James FOTO: vergunning van Rozanne McKenzie Rozanne en baba James
FOTO: vergunning van Rozanne McKenzie

Jacques Terre’blanche: “Ek soek na iemand wat ’n natuurlike sprankel het en die X-faktor. Hulle moet ook bereid wees om hulself 100% vir ’n goeie saak beskikbaar te stel en hul gewig 100% in te gooi.”

Jacques 1 Jacques Terre’blanche FOTO: www.jacquesterreblanche.co.za

Besoek www.sabachelor.co.za om in te skryf.