Jou voorkoms herinner aan ou Hollywood. Sou jy as aktrise uitgestaan het as jy in die vyftigerjare geleef het?
Ek dink ek staan nóú uit omdat ek daardie look het. Omdat ek bewus van ontwerp en mode is, besef ek wat vir my werk. Om aan te trek is ’n emosionele ding. As ek gelukkig is, trek ek kleurryk aan. Jy kan dra wat jy wil, solank jy dit met selfvertroue doen. Mense onderskat hoe belangrik innerlike skoonheid en ’n natuurlike voorkoms is en beplak hulself met grimering. Dit steek jou ware skoonheid weg.

Is dit belangrik om jou beeld te bestuur?
Dit is. Ek sê soms nee vir sekere tydskrif-voorblaaie. As ek ’n aktrise in SA wil wees, moet ek myself as ’n handelsmerk sien en bemark. Ek en Nadia Valvekens (sy is Pippa in Binnelanders en Rolanda speel Stefanie) is al genader om op ’n manstydskrif se voorblad in bikini’s te verskyn. Die oomblik as ek so iets doen, gaan meer mans weet wie ek is en gaan my profiel verander. Dis nie die beeld wat ek wil uitdra nie. My beeld is iemand wat ernstig is oor wat sy doen.

Jou kêrel, Adam Davies, is in die rekenaarbedryf en het onlangs Kaap toe getrek. Het jy planne om ook te gaan?
Dis nie nou moontlik nie. Daar is nie genoeg werk vir akteurs in die Kaap nie. Ek dink ons verhouding is sterk genoeg om die lang afstand te oorleef. Ons glo ons moet mekaar ruimte gee. Ek is bang om “een” te word in ’n verhouding. Ek wil myself nie verloor nie. Ek en Adam glo ons moet tyd maak om ons siele gelukkig te hou en Kaapstad is ’n goeie plek om dit te doen. Adam sê dit voel asof mense in Johannesburg vergeet waaroor die lewe gaan. Jy moenie net genoeg geld maak nie, jy moet ook ’n gehalte-lewe lei.

Dink julle al aan trou?
Ons het al daaroor gesels, maar dis nie in ons beplanning nie. Ons wil vir die res van ons lewens bymekaar wees, maar trou is nie vir ons so ’n big deal nie.

Voel jy ook die swaar ekonomiese tye?
Ja, dit raak ons bedryf, lees maar die koerante! Ook met Egoli wat klaarmaak en akteurs by Binnelanders wie se kontrakte nie hernu is nie. Aan die een kant maak dit my bang, maar aan die ander kant is ek dankbaar omdat ek nog werk het en Binnelanders se vervaardigers voel ek beteken iets vir hulle.

Is daar dinge omtrent akteur-wees wat jou frustreer?
Soms dink ek akteurs is te maklik vervangbaar. ’n Akteur wat voel hy moet meer geld verdien, word maklik laat gaan om iemand anders aan te stel. Dit plaas jou in ’n kwesbare posisie waar jy nie nee kan sê vir werk nie, al is dit iets wat nie goed betaal nie, of waarvan jy nie hou nie. Die lewe word duur. Ek is 31. Ek is nie meer 23 wanneer jy ’n skedonk kan ry en van Two Minute Noodles leef nie!

Pla dit jou as mense met min talent rolle kry omdat hulle aantreklik is?
Ja, mense wat nie kan act nie word soms aangestel en dan is die publiek mal oor hulle. Dit laat my wonder hoekom ek vier jaar studeer het om ’n aktrise te wees, maar ek besef ook daar’s ’n plek vir almal. Dis ’n swaar pil om te sluk, want ek is ’n puris. Ek is hard op myself en op ander as dit kom by vaardigheid. Dit frustreer my as mense nie my bedryf ernstig opneem nie. Mense dink jy word ’n akteur om famous te wees – en daar is mense wat dit wel vir bekendheid doen – maar daar is ook diegene wat drama studeer het omdat hulle ’n passie het om stories te vertel en die menslike psige te ondersoek.

Jou pa is predikant op Wellington. Watter rol speel spiritualiteit in jou lewe?
Jy moet altyd bewus wees van die groter plan in jou lewe en die lesse wat ons op hierdie aarde kom leer. Wanneer iets fout gaan, help my spiritualiteit my om nie vir myself jammer te voel nie, maar te kyk hoe ek daaruit kan leer. Soms is dit moeilik, maar op die lange duur sien ek altyd waarom dinge só uitgewerk het. Die mens is maar ’n sensitiewe wese en sonder spiritualiteit kan ons ons lewenspad soveel meer kompliseer as wat nodig is. Alles wat jy doen en sê, het gevolge en elkeen moet verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar. Hierdie lewensfilosofie gee my ’n gevoel van rustigheid en beheer oor my lewe.

Word jy minder vreesloos hoe ouer jy word?
Op sekere vlakke minder en op ander meer. Ek sou enigiets gedoen het toe ek jonger was. Dis belangrik om mense in jou lewe te hê wat jou inspireer om kanse te waag. Ek is dankbaar vir Adam; iemand wat sê: “Ek gaan Kaapstad toe, ons doen die langafstand-ding, join my later.” Dis asof hy namens my ’n kans waag.

Toekomsplanne?
Ek het ’n passie vir ontwerp en klere maak. Ek en Adam sal eendag saam ’n ontwerp-maatskappy wil begin. Hy wil meubels ontwerp en ’n deli oopmaak.