Ryan Gosling het in ’n onderhoud met die Australiese GQ gesê as hy ’n perfekte dag kan hê, sal hy ’n groot gedeelte van die dag brei. Hy het hierdie handwerktegniek geleer terwyl hy Lars and the Real Girl geskiet het.

“Ek was die hele dag in ’n toneel in ’n kamer met tannies wat brei, so hulle het my geleer. Dit was een van die mees ontspannende dae in my lewe.”

Die 32-jarige akteur wat tans met die aktrise Eva Mendes uitgaan, sê buiten dat brei sy stres verlig, kry hy ook iets daaruit, soos ’n geskenk. “Vir die wat ’n vreemde, lelike serp wil hê,” skerts hy.

Ryan is bekend vir sy veelsydige rolle, van ’n polisieman tot ’n reeksmoordenaar. Maar hy is op ons lys van hartebrekers vandat hy ons harte in The Notebook laat smelt het. En as ons die gerugte moet glo, speel hy die hoofrol in die komende Fifty Shades of Grey-rolprent.  

Bron: The Inquisitr

Ryan se nuutste fliek, Gangster Squad, wys tans op die grootskerm.