Vir Lerato is haar benoeming in die Internasionale Emmy's se Beste Aktrise-kategorie vir haar rol as Katlego in Home Affairs soet én suur. Die erkenning is oorskadu deur die feit dat sy nie die geld het om die geleentheid op 22 November by die New York Hilton Hotel by te woon nie, berig Times Live. Dit is die wêreld se mees gesogte TV-geleentheid. Helena Bonham Carter, die Oscar-benoemde Britse aktrise wat onlangs as die Red Queen in Alice in Wonderland te sien was, is in dieselfde kategorie benoem vir haar rol in Enid.

Volgens Lerato sal dit haar R125 000 kos om haar land in Amerika te gaan verteenwoordig."Ek het vandag baie gehuil, want ek kan niemand kry om my te borg of te help om fondse in te samel nie. Wat sal gebeur as ek dit wel wen?"

Home Affairs is 'n plaaslike drama op SABC 1 wat op Suid-Afrikaanse vroue se stories fokus. Lerato se karakter is deur haar ouma grootgemaak en word 'n slagoffer van 'n motorkaping.

Brenda Ngxoli, ook een van dié reeks se aktrises, is in 2007 in dieselfde kategorie benoem, maar kon vir dieselfde redes ook nie die seremonie bywoon nie.

Tydens die 38ste Internasionale Emmy-toekennings sal voormalige American Idols-beoordelaar, Simon Cowell, ook vereer word.