Vir jare het die Suid-Afrikaanse filmbedryf gestagneer. Maar nou is die bedryf besiger as ooit en plaaslike flieks trek gróót gehore.

As jy sing bekoor kykers

Die Afrikaanse musiekfilm As jy sing het in sy openingsnaweek meer as R1,5 miljoen by die Suid Afrikaanse loket ingepalm! En ná dié wonderlike vertoning oor die eerste naweek, weet ons dat die Suid-Afrikaanse filmpubliek iets in As jy sing raakgesien het waarvan hulle hou. Dié fliek het 40% meer kaartjies verkoop as Tom Hanks se Captain Phillips wat ook die naweek begin draai het.

Bobby van Jaarsveld speel die rol van ’n doodgewone musiekonderwyser, mnr. Conradie, by ’n sportmal skool. Hy leef vir sy sanggroepie, die Bekfluitjies, wat moet veg vir hul plek in die son aangesien die skoolhoof (Robbie Wessels) beslis ander planne het as om vir hulle daardie plekkie te gun. Maar dié sanggroepie, gemotiveer deur die wete dat iemand in hulle glo, gaan hulle nie so maklik laat onderkry nie. Veral nie wanneer hulle weet die lewe kry ware betekenis wanneer hulle sing nie. Die res van die sterbelaaide rolverdeling spog met name soos Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld, Hanna Grobler en Katlego Maboe, asook nuwe jong talent soos Leah, Tiaan Kelderman, Franja du Plessis (Juanita se dogter) en Georic Lomas.

As Jy SingKyk hier na die première-foto's van As jy sing

Khumba verdien sy strepe

Khumba is al vir ’n hele paar weke in die eerste posisie op die Suid-Afrikaanse loket. En met die skoolvakansie om die draai, voorspel fliekkenners dat dié oulike animasieprent nog groot geld gaan inwin. Die rolprent is vervaardig deur ’n ateljee in Kaapstad en spog met die stemme van groot Amerikaanse akteurs soos Liam Neeson en Laurence Fishburne. Daar is ook ’n Afrikaanse weergawe van dié film met die stemme van onder meer legendariese akteurs soos Elzabé Zietsman en Frank Opperman.

Die fliek gaan oor ’n sebra wat nie met al sy strepe gebore is nie. Wanneer ’n groot droogte die omgewing tref, glo sy bygelowige trop dat dit sý skuld is. Hy gaan soek sy strepe in die Karoo, maar op die reis vind hy moed en nuwe vriende. Én hy vind ’n manier om al die diere van die droogte te red ...

Khumba Khumba