Allan Shelley van Kaapstad is een van 700 jong mense wat deelgeneem het aan die internasionale Jameson First Shot-kompetisie. Inskrywings is uit Suid-Afrika, Amerika en Rusland ontvang.

Shelley was in die wolke toe hy as die SA wenner aangewys is, en hy is binnekort op pad na Los Angeles waar sy groot kans op hom wag. Sy wen-draaiboek, Spirit of a Denture, gaan met Spacey in die hoofrol geskiet word.

"Ek's baie op my senuwees, maar ek sal maar moet wag en kyk hoe dit gaan. Ek's goed voorbereid," het Shelley gesê.

Spacey het op sy beurt laat val dat hy baie uitsien na die ervaring. "Ek wil talentvolle mense die kans gee om vir die eerste keer hul drome te verwesenlik. Ek het 'n suksesvolle loopbaan omdat ek aan die begin meestal saam met debutant-skrywers en -regisseurs gewerk het."

Shelley, wat 250 opkomende SA filmvervaardigers uitgestof het, sê hy wil soveel moontlik wys word. "Hierdie is 'n geleentheid vir my om Hollywood te leer ken."

Volgens hom wil hy in die Suid-Afrikaner Gavin Hood, wat 'n Oscar vir Tsotsi gewen het, se voetspore volg.

Die drie wen-inskrywings sal in Junie in Johannesburg, New York en Moskou vertoon word, waarna die algehele wenner deur die publiek gekies sal word.