Sy wen die prys met haar treffende foto van die geskende Afgaanse vrou, Bibi Aisha, op die TIME-voorblad van 1 Augustus 2010. Bibi is geskend omdat sy durf waag het om uit haar man se huis in Kaboel, Afganistan, te vlug nadat hy keer op keer geweldaddig teenoor haar was. Die Taliban het daarop aangedring dat sy gestraf word, en toe het haar swaer haar vasgehou terwyl haar man haar ore en daarna haar neus afgesny het. Sy is daarna aan haar lot oorgelaat totdat sy deur noodlenigingswerkers en die Amerikaanse militêre magte gered is. Sy is eers in ‘n sorgsentrum in Kaboel behandel en is later na Amerika geneem, waar sy nou woon.
 
Ek het Jodi gevra hoe sy gevoel het toe sy hoor sy het die prys gewen.
Dis ongelooflik en nogal intimiderend, want die foon hou nie op met lui nie. Dis onderhoud na onderhoud. Dis so opwindend om juis vir dié foto ’n prys te wen. Van my foto's het al in vorige jare agt keer in verskillende kategorieë pryse gewen in dié wedstryd, maar dis die eerste keer dat ek die grote wen!
 
Waarom is die foto vir jou so spesiaal?
Dis ‘n foto oor ‘n saak wat vroue wêreldwyd raak en ek is ‘n vrou. Ek kan nie onaangeraak staan nie. Dié foto het die situasie van vroue in Afganistan uitgelig. Dit is ’n kontroversiële saak. En daar is baie oor die foto geskryf en gepraat. Ek is oorstelp oor die prys.
 
Gaan jy die prys self in ontvangs neem?
Ja, ek gaan in Mei na die prysuitdelingsgeleentheid oorsee, maar ek het nog nie die details nie. Ek is baie opgewonde.
 
Waaraan werk jy nou?
Ek is besig om werk bymekaar te sit vir ’n uitstalling wat einde Maart by die Goodman Galery in Kaapstad open. Daar is ’n kurator wat die uitstalling saamstel, maar daar is nog nie eers ’n titel daarvoor nie.
 
Waar kan mense meer van jou werk sien?
Op my webwerf: www.jodibieber.com

* Gaan ook na 2010 - World Press Photo

TIME