Joanne Lefson, die Suid-Afrikaanse vrou wat voorheen in die kollig was toe sy en haar vorige hond (Oscar) die hele wêreld vol gereis het, het haar oor ’n straatbrak in Indië ontferm. Rupee, soos sy hom gedoop het, het mooi aangesterk en dié twee het onlangs Berg Everest saam uitgeklim ...

Rupee was slegs 8 maande oud toe Joanne hom in die noorde van Indië op ’n ashoop raakgesien het. Hy was besig om dood te gaan van dehidrasie en kon skaars tien tree loop sonder om om te val. Joanne het hom aangeneem en gesorg dat hy goed eet. Sy  het elke dag rys en eiers gekook sodat Rupee die nodige proteïene kon inkry. Rupee was vinnig weer op die been en gereed om berge te versit...letterlik! Klik hier om na die foto's van Rupee se uitstappie te kyk Joanne is ’n avontuurlustige vrou en het besluit om ’n groot uitdaging saam met Rupee aan te pak - iets wat sy eintlik saam met Oscar wou doen. Volgens Rupee se veearts is hy in die Himalajas gebore en sou sy liggaam die koue kon hanteer wanneer hy en Joanne Berg Everest uitklim. ’n Filmvervaardiger van Mumbai het ingestem om dié ekspidisie te verfilm en was, saam met portiere en toergidse, deel van die bergklimspan. Dit het dié span slegs 10 dae geneem om tot op die bergtop van Everest te klim. Rupee was natuurlik die heel eerste hond in die geskiedenis wat dié berg uitgeklim het.

In ’n onderhoud met The Daily Mail het Joanne erken dat sy gewonder het of Rupee dit wel sou maak. "Ek het my vir die ergste voorberei en het ’n ekstra portier saamgeneem net ingeval Rupee sou moeg raak en vir ’n paar tree gedra moes word. ’n Onvergeetlike deel van die reis was om te sien hoe Rupee vir die eerste keer met sneeu kennis maak. Hy was mal daaroor en het elke moontlike oomblik daarmee gespeel, dit rondgejaag en het selfs probeer om dit te kou," het dié trotse eienaar gesê. "Daar was baie toeriste wat die berg saam met ons uitgeklim het en hulle kon hul oë nie glo toe hulle vir Rupee saam met ons sien nie."

Joanne en haar vorige hond, Oscar, het internasionale bekendheid verwerf toe hulle die wêreld vol gereis en landmerke soos die Eiffel Tower en die Groot Muur van China besoek het.

Bronne: The Daily Mail,Time Newsfeed