Die 28-jarige prins was die eregas by 'n glansgeleentheid waar die rykes en bekendes in 'n tou gestaan het om hom te ontmoet. Onder die gaste was die sanger van Black Eyed Peas, Will.i.am, die seun van John Lennon, Sean Lennon, en ander invloedryke sakemense en filantrope

Sean Lennon het aan die Daily Mail gesê New Yorkers hardloop omtrent rond om dié prins te sien. "Mense is lief vir hom hier."

Will.i.am het die prins opgesom as 'n partytjie-prins, 'n soldaat én 'n filantroop. "As hy 'n filmkarakter moes wees, sou hy Iron Man gewees het."

Maar die grootste eer wat Harry die aand te beurt geval het, was toe een van die mooiste vroue in die VSA, mej. VSA, Nana Meriwether, vir hom ogies maak. Nana is in Suid-Afrika gebore, maar het in Amerika grootgeword.

Sy het tong in die kies (of dalk nie) gesê:

"Hy verteenwoordig sy land goed hier (in Amerika). Mej. VSA is soos 'n koninklike in Amerika, so ek hoop ek ontmoet hom. Hy is enkellopend, nè? Wel, ek is ook. Sal dit nie wonderlik wees as ons trou nie!"

Die lang prins (hy is 1,8 m lank) het dadelik die aandag van dié langbeen-skoonheidskoningin getrek, hoewel sy 'n paar sentimeter bo hom uitgetroon het in haar hoëhakskoene.

Prins Harry toer sedert 9 Mei deur Amerika. Hy het onder meer die gebied besoek wat verlede jaar die swaarste deur Orkaan Sandy getref is, en het in 'n polo-wedstryd gespeel om geld vir sy liefdadigheidsorganisasie in Lesotho, Sentebele, in te samel.

Kyk die video vir 'n oorsig van Harry se Amerikaanse toer: