Vir die meeste lyk die U2-sanger Bono se alomteenwoordige sonbril soos ’n modestelling. Maar dié sanger het aan die Britse kletsprogram-aanbieder Graham Norton onthul dat hy al vir twee dekades aan gloukoom ly.

Vir dekades het Bono geswyg oor hierdie oogsiekte, maar volgens Daily Mail het hy vir die eerste keer op die kletsprogram The Graham Norton Show die rede vir sy kenmerkende sonbril gegee.

Graham het vir Bono gevra of hy ooit nié ’n sonbril dra nie, waarop Bono geantwoord het dat dit ’n "goeie plek is om aan mense te verduidelik dat hy die afgelope 20 jaar aan gloukoom ly."

Gloukoom veroorsaak drukking in die oog en as dit nie behandel word, kan dit tot swak sig en selfs blindheid lei. Gloukoomlyers is sensitief vir lig, daarom dra Bono altyd ’n sonbril. Hy het ook genoem dat hy behandeling vir die toestand ontvang en dat dit met hom goed gaan.

Bono (54), oftewel Paul David Hewson, is getroud met die 53-jarige aktivis en sakevrou Ali Hewson. Hulle het saam 4 kinders - Eve (23), Jordan (25), John (13) en Elijah (15).

Bron: Daily Mail