Ons is hier by die KKNK op Oudtshoorn – en dis soos om by die huis te wees.

En ons stalletjie kook! Soos die laaste 11 jaar is dit weer ’n heerlike bymekaarkom- en kuierplek. Afgesien van die hitte (soos jy mos net op Oudtshoorn kry),
lang ure in die stalletjie en baie moeë bene en voete is ons in ons element! Ek het net weer besef ons lesers, wat oor die jare al KKNK-vriende geword het, kom sowaar van oral – selfs van so ver as Namibië en Zambië – al neem dit hulle 2 of 3 dae om hier te kom.

G’n hitte of erge bedompigheid, of selfs ’n onverwagse, maar heerlike reënbuitjie soos gistermiddag, keer hulle om te kom groet, weer op SARIE en SARIE KOS in te teken nie (ek sou ook met al die specials daarby!), en natuurlik om ’n ietsie te kom koop. Daar bly maar iets onweerstaanbaars aan ’n SARIE-pen, en daardie pêrel-armband wat so gewild was in Maart-maand se SARIE, is hier by die fees net so ’n groot treffer!

Soms dink ek ek gesels meer as wat ek verkoop. Maar dis darem lekker om te hoor dat ’n leser van Kimberley al klaar die melktertresep – die wen-een in ons heel nuutste SARIE KOS – getoets het. Weens die hitte het sy al om 4.30 opgestaan om die tert buite op haar stoep te begin bak – so met die waaier ook nog op die bestanddele om alles koel te hou. “’n Regte, egte melktert is ook nie almal se sterkte nie!” herinner sy. En die resultaat? “Die beste melktert, vir seker, in die land.”

Maar wag, ek haal toe Saterdagoggend die vliegtuig van Johannesburg George toe vir die fees – van alle dinge Vlug 911! Dit was alles heel vrolik, so met Joost en Amor en amperse pa Theuns Jordaan op die vliegtuig. Natuurlik was almal se aandag byna net op Joost en Amor, en ’n paar manne het sommer dadelik aan Joost begin torring. Die sexy Amor het hard probeer om vrolik te wees, maar bykans elke vrou se reaksie op die vlug was een van: “Ag, shame, die arme vrou!

Soos julle seker in die koerante gelees het, is sy luid op die verhoog verwelkom by die fees se Afskop-konsert. Sy’t heel emosioneel die skare bedank vir hul ondersteuning – terwyl Joost glo heel op sy gemak agter die skerms staan en gesels het. Maar nou is die res van haar optredes hier gekanselleer. ’n Mens kan net gis dat die druk vir haar uiteindelik te veel geword het . . .

Sondagaand het ek Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo gaan kyk. Wat ’n ongelooflik gevoelvolle stuk, en watter ongelooflike akteur het ons nie in Sandra nie! Selfs Marius Weyers en sy vrou, Evette, was in die gehoor. As ons Oscars gehad het, sou ek een vir haar gegee het. ’n Mens vergeet dat dit Sandra is, want elke stukkie van haar raak die vrou in die ouetehuis wat haar lewe in oënskou neem en haar vreugdes en pyn in die oë kyk. Ná die tyd by die Kalinka-restaurant het Sandra aan tafel vertel hoe swaar dit vir haar was om dié teks te leer, omdat dit in vrye vers – soos die karakter se gedagtes rondspring – geskryf is. Maar uiteindelik is dit ’n storielyn wat almal aan die hart gryp en waaroor ons nog lank sal praat. Ook net weer ’n bewys dat die regisseur Hennie van Greunen een van die heel bestes in die bedryf is.

Die Naaimasjien is tans die KKNK se no. 1-verkoper, met SARIE se stuk, Op die vrou af 2 van André le Roux, in die 2de plek. Dan volg Shirley Valentyn met Shaleen Surtie-Richards en Sussie: Cheers! met Marion Holm in die 3de en 4de plek – almal Hennie van Greunen-stukke!

Op die vrou af 2 se resensie Maandag in die feeskoerant, Krit, het ook sommer my hart warm gemaak! Lees hier: “So meesterlik as wat (Pedro) Kruger en (Jolette) Odendaal se akteurspel is, net so goed is die musiekverwerkings wat hulle uitvoer.

En daai tango reg aan die einde, waar geliefdes in mekaar se oë staar en al hul verskille soos mis voor die son verdwyn, is skouspelagtig!”
Liezel de Waal van Potchefstroom is pas getroud en sê Op die vrou af 2 is ’n moet vir elke getroude paar!

Nou kan ek nie wag om Dinsdagaand Blues en susters te gaan kyk met Ollie Viljoen, Anna Davel en SARIE se eie Lou-Ann Stone op die saxofoon nie. Anna sê gisteraand vir my dis die rustigste groep musikante saam met wie sy nog gewerk het – geen ego’s of drama nie, en hulle geniet hulself gate uit.

Terloops, Lou-Ann is nie al SARIE-redaksielid wat vanjaar by die fees optree nie. Ons senior joernalis, Marguerite van Wyk, is deel van die Libertas-koor wat in die stuk Jericho! te sien is.

Verder verkyk ek my aan die guitighede van feesgangers. Platinum en pienk pruike (ja, in die hitte), haasore op die kop, klein Paris Hilton-hondjies onder die arm (ek sweer ek het Paris Hilton vanoggend self hier gesien!) en fedora-hoede is alles feesbykomstighede.

En natuurlik eet die nasie lekker – ook hier by SARIE se koffiewinkel waar die boekeparadys eers was. So, teen laatmiddag gaan ek self in Baron van Rheede afstap vir roosterkoek met appelkooskonfyt.

Ons gesels weer môre. Maar nog beter, kom kuier vir ons by die SARIE-stalletjie!

Michélle

* Deel jou feespret met ander deur jou KKNK-foto's vir ons te MMS.

* Word bederf by die SARIE / SARIE KOS stalletjie.