7de Laan was ’n groot geloofsprong. Só het vervaardiger Danie Odendaal destyds die sepie met hul 10de verjaardag in 2010 in ’n SARIE-onderhoud beskryf.

En nou vier 7de Laan hul 20ste jaar. Oor twee dekades het akteurs en aktrises gekom en gegaan, maar vir baie Suid-Afrikaners is die sepie en sy mense steeds soos familie. ’n Sepie wat daagliks deur meer as 3 miljoen kykers gevolg word.

Vir SARIE het die Laan meer stories, meer voorblaaie en meer sterre opgelewer as enige ander, en met baie van hulle – waar hulle ook al is – stap ons steeds ’n pad.

Van die talle projekte wat ons saam met 7de Laan aangepak het, onthou ons veral die voorblad en fotosessie vir ons Mei 2010- uitgawe met 19 van die akteurs. Dit was vir hul 10de verjaardag.

SARIE vier 7de Laan se 10de verjaarsdag
SARIE vier 7de Laan se 10de verjaarsdag

En hoe sal ons Santorini ooit vergeet! Toe ’n SARIE-span eksklusief saamgereis het na dié idilliese Griekse eiland vir die hereniging van die geliefde Wilmien (gespeel deur Nina Swart) en haar liefde, Zac (Robert Bester).

Dit was ook die verfilming van Nina se heel laaste en emosionele toneel vir 7de Laan. Ure se skiet in die eilandhitte deur ’n hegte span het SARIE ’n kykie gegee in die hart van die gewilde sepie.

Met hul 20ste feesviering vanjaar sê ons geluk en dankie vir jare se inspirasie. 

Donnalee Roberts
Van links Donnalee Roberts (Annelie), Amalia Uys (San-Mari) en Angelique Gerber (Clara). FOTO AUBREY JONSSON
Chris Vorster
Chris Vorster (Ryno) en Illse Roos (Isabelle). FOTO AUBREY JONSSON
Heino Schmitt
Heino Schmitt (Altus, links) en Jacques Blignaut (Vince). FOTO AUBREY JONSSON
Vuyelwa Booi
Vuyelwa Booi was die Laan se Alyce. FOTO AUBREY JONSSON
Ingrid Paulus
Ingrid Paulus (Vanessa, links) en Melanie du Bois (Felicity). FOTO AUBREY JONSSON
Heléne Lombard
Feekse Heléne Lombard (Sandra, links) en Jo da Silva (Gita, die feeks wat almal wou speel). FOTO AUBREY JONSSON
Elma Postma
Elma Postma (Dezi) voor die kamera as oud-Laner FOTO AUBREY JONSSON
Nico Panagio
Van links Nico Panagio (George), Nina Swart (Wilmien) en Robert Bester (Zac) herenig vir die sepie se 10de verjaardag. FOTO AUBREY JONSSON
Diaan Lawrenson
Diaan Lawrenson was vir byna dertien jaar Paula. FOTO AUBREY JONSSON

SARIE-REDAKTEURSBRIEF

MEI 2010, MET 7DE LAAN SE 10de VERJAARSDAG

Ons vier dié maand fees – saam met die span van 7de Laan! Hoe dan anders?

Hierdie sepie het oor die laaste 10 jaar vir SARIE, en al die ander Afrikaanse tydskrifte in die land, meer voorblaaie en stories opgelewer as wat ons kan onthou. Paula, Emma, Felicity en kie het nie net elke aand in ons sitkamers gekuier nie, maar kykers se belangstelling só geprikkel dat daar ’n byna onversadigbare behoefte was om meer te weet van die akteurs agter die gewilde karakters. As Bertha (Emma) op dieet was, het die land saam gedieet, en toe Melanie (Felicity) haar emosies met haar in vitro-behandeling met SARIE-lesers gedeel het, het hulle haar hand vasgehou.

Vir seker het van ons lesers gekla oor al die 7de Laan-gesigte op ons voorblad, selfs gedreig om SARIE nooit weer te koop nie! Feit van die saak was (en is): Daar was altyd méér lesers wat vír 7de Laan was. Ná net drie, vier jaar op die kassie is 7de Laan in die SA media reeds as ’n “fenomeen” bestempel. Die sepie was besig om oud en jonk te oorrompel – om wit, bruin en swart te verlei. En met Engelse onderskrifte het meer as net Afrikaanssprekendes 7de Laan gekyk. Uit my gesprekke, en tot my verstomming, was vroue én mans, selfs skrywers soos André P. Brink, op die hoogte van die manewales in die Laan. Baie studente het hulle saans nie in Stellenbosch se bekende Laan bevind nie, maar voor die TV se Laan!

Hoe dan nou? Niks beters om te doen nie? het ek ’n klompie studente op ’n keer gevra. Hul verduideliking: “7de Laan is soos ons lewe. Ons het vriende, maak planne, hou partytjie, het nooit geld nie en werk in koffiewinkels vir ’n ietsie ekstra. Ons identifiseer met die karakters.” So eenvoudig soos dit. 7de Laan en sy fans het nooit opgehou om my te verras nie. Soos die keer toe ek in die spreekkamer gewag het vir my beurt by die dokter. Ek het gedink die vrou langs my herken my, maar hoe nou? Wie sê eerste wat? Toe breek sy die ys met: “Is Paula deesdae nie op haar stukke nie!”

In 2003 is SARIE saam met 7de Laan om ’n paar episodes op die eiland Santorini te skiet. Dit was hoog-liefdesdrama met Wilmien (Nina Swart) wat daarheen gevlug het met haar geliefde Zac (Robert Bester) agterna. Ons was onder groot geheimhouding op die eiland, want dié episodes sou eers weke later uitgesaai word en niks mag die storie vir die kyker bederf het nie. Op Dag 1 maak Nina gereed om voor die kamera te verskyn. Maar meteens word verrigtinge onderbreek met ’n histeriese “Wil-mien, Wil-mien!”. En daar staan hulle: ’n Groepie 7de Laan-entoesiaste wat hul gunsteling-karakter herken het en eenvoudig nie hul geluk kan glo nie.

Oor waarom 7de Laan so ’n reusesukses geword het, is al baie gewonder. Ontvlugting, dis vir gewone mense, ’n mengsel van komedie en drama, gesinsvermaak, polities neutraal, hoop? Dit kan sekerlik een of almal van dié redes wees. Maar ek dink dis die passie. Hier is ’n groep mense wat glo in wat hulle doen, sonder pretensie in daardie storielyne inklim en genot put uit die genot wat hulle vir derduisende Suid-Afrikaners bring. So eenvoudig soos dit! 

- Michélle van Breda, redakteur

In 2003 was SARIE saam met 7de Laan in Santorini
In 2003 was SARIE saam met 7de Laan in Santorini
Santorini
Links bo praat Robert op sy selfoon terwyl hulle regmaak om te skiet, en links onder bespreek Nina en regisseur Henry Mylne die volgende kameraskoot.
Santorini
Santorini se blou en wit, so ver die oog kan sien. En hitte, en Wilmien vir oulaas. Dís wat SARIE onthou van die genotvolle tyd saam met 7de Laan op die Griekse eiland Santorini. FOTO’S MARK CAMERON
Robert Bester
Akteur Robert Bester uitgestrek op die swart vulkaniese strand van Kamari op Santorini. Die foto was deel van SARIE se modefotosessie vir die November 2003-uitgawe met Robert en Nina. Ses episodes van 7de Laan is terselfdertyd op die eiland geskiet.

Dit het alles in die 70’s in ’n koffiewinkel in Melville, Johannesburg, begin. Danie Odendaal het vir ’n vriend sit en wag en om hom rondgekyk, en daar was hulle almal – 7de Laan se karakters.

“Hilda” het oorkant hom gesit, die oujongnooi met die serpie om haar nek wat aan ’n snytjie anchovy toast geknibbel het. “Madel” het ingestap, formidabel en belangrik. ’n Kelnerin het in haar minirompie rondgetrippel en ’n jong sjef het ’n paartjie buite gegroet. 

’n Sepie oor gewone mense wat by mekaar se lewens betrokke raak? Dit kon ’n treffer wees, of misluk. Teen dié tyd weet ons almal wat die uitslag was ...

Charis Labuschagne, Praat met Danie Odendaal, SARIE Mei 2010

Simoné Pretorius
Simoné Pretorius het in 2014 as Nadia in 7de Laan weggestap met die prys beste nuweling by die Royalty Soapietoekennings. FOTO PHYLLIS GREEN
Markus Haywood
Markus Haywood is sedert 2015 te sien in die rol van Willem. FOTO PHYLLIS GREEN
Elsabé Daneel
Waar sy gaan, onthou kykers Elsabé Daneel in haar rol as Linda, Tim Jordaan (Marius Weyers) se “modelvrou”. “Hulle onthou veral daai klap wat Linda die feeks Gita gegee het!” sê Elsabé. FOTO RODGER FEBRUARY
Quinne Brown
Quinne Brown Huffman op ’n Februarie 2006-voorblad. Sy is ná 10 jaar in Amerika weer voltyds terug in die rol van Connie. FOTO MARK CAMERON
Annelisa Weiland
Annelisa Weiland, die geliefde Hilda met haar serpies, is nou deel van Suidooster op kykNET. FOTO PHYLLIS GREEN
Theodore Jantjies
Die ernstige prokureur . . . Theodore Jantjies (Xander) het die sepie nou ná 14 jaar verlaat. FOTO NICK BOLTON
 Christi Panagio
"Ek sal 7de Laan ewig dankbaar wees" - Christi Panagio (Karien) FOTO AUBREY JONSSON
Vicky Davis
Vicky Davis was ná haar rol as Tessa in 7de Laan onder meer aanbieder van Pasella op SABC2. FOTO MICKEY HOYLE
Diaan Lawrenson
Van Diaan Lawrenson kon kykers en SARIElesers nooit genoeg kry nie. Vandag is sy dekaan van die Kaapse kampus van AFDA. Foto: Lanserialughawe, SARIE 2008
Bertha le Roux
Bertha le Roux was vir jare een van SARIE se heel beste verkopers. FOTO CLINTON LUBBE
Vinette Ebrahim
Vinette Ebrahim (Charmaine) het die Laan onlangs ná 13 jaar verlaat. FOTO PHYLLIS GREEN
Francois Lensley
Francois Lensley (Marko) is steeds ’n bekende gesig in die sepie. FOTO PHYLLIS GREEN
Vicky Davis
Vicky Davis was ná haar rol as Tessa in 7de Laan onder meer aanbieder van Pasella op SABC2. FOTO MICKEY HOYLE