Jou kinderjare het ’n moeilike begin gehad?
My ma, Yvonne, is net ná my geboorte met kanker gediagnoseer. Ek het haar die eerste sewe jaar van my lewe min gesien, want sy was gedurig in die hospitaal. Sy wou nie gehad het hulle moet my hospitaal toe bring nie oor sy baie siek was.

My ouma, Kay Fairley, het van Kaapstad af Bloemfontein toe gekom om my en my ouer boetie en sussie te versorg. Teen my agtste jaar het my ma herstel en ons moes haar van voor af leer ken. Dit was die bindingsproses wat ek ná geboorte moes gehad het. Dit het my hele lewe beïnvloed. Ek het gevoel sy verwerp my en ek was te klein om te besef sy was siek. Sy het haar bes gedoen om te vergoed daarvoor en my na musiekklasse rondgery. Sy het selfs klavierlesse geneem om my te kan help. Sy was ’n verpleegster en baie kwaai: Ons het baie gehaak.

Toe volg moeilike tienerjare?
Ek het baie weggeloop. Ek het sedert ek 16 was my eie geld verdien deur in Sukovs se orkes te speel. Ek het dikwels ’n vliegkaartjie Kaap toe gekoop en ’n paar weke by my ouma gaan afkoel. My ma is vier jaar gelede oorlede en ons het uiteindelik ’n goeie verhouding gehad. My ouma is nou 89 en sy is steeds die moederfiguur in my lewe.

Waar het jou musiektalent begin groei?
Ek het op vier blokfluit begin neem, maar voor my sewende verjaardag het ek ’n simfonie-orkes op TV sien optree en op die viool verlief geraak. Ek moes lank aan my pa, AP, ’n narkotiseur, karring voordat hy ’n viool gekoop het. Daarna wou ek nooit weer ophou speel nie.

Wie is jou mentor?
Die dirigent Gérard Korsten het my deursettingsvermoë en dissipline geleer.

Hoe het jou loopbaan afgeskop?
Ná my B.Mus.-studies aan die Vrystaatse Universiteit was ek twee jaar verbonde aan Truk se orkes in die Staatsteater in Pretoria. Dit was altyd my droom om in ’n orkes te speel, maar dit was ontnugterend. Ek het saam met ’n klomp buitelandse musikante gespeel. Hulle was almal ontevrede, oorwerk en onderbetaald. Ek het ná twee jaar besluit ek kan nie twintig jaar in die orkes bly en soos hulle word nie.

Toe gaan jy op ’n sabbatsreis?
Ek het eers in Suid-Afrika en toe in Londen ’n kursus gevolg om volwassenes Engels te leer. Ek was ongelukkig en arm in Engeland. Bedags het ek geleer en saans in ’n kroeg gewerk. Daarna is ek Brasilië toe waar ek Engels gegee het, ’n luilekker lewe sonder sorge. Ek praat steeds Brasiliaanse Portugees vlot.

Die begin van jou oorgang na meer gemaklike musiekgenres het daar begin?
Ek het in Brasilië viool gespeel by ’n vriendin se troue. Die salsa-orkes wat ook by die troue opgetree het, het my genooi om saam te speel. Ek het lid van die orkes geword en geleer om ritmiese klanke uit my viool te tower.

Jou tydperk oorsee was ’n U-draai in jou lewe?
Dit was ook ’n emosionele reis, want ek moes myself vind. Ek moes my horisonne verbreed en dit het my verskeie kulture, musiekstyle en genres laat ervaar. Die ervaring was die inspirasie agter my eerste CD, U-Turn, want my musiekstyl en lewe het ’n U-draai gemaak.

* Annake was voorheen met tenoor Jannie Moolman getroud.